Christie was in sy noppies toe hy die punt van Lee
Christie Theart was in sy noppies toe hy die piek van Leeukop bereik. Foto: Verskaf

Christie Theart is al van babatyd af 'n parapleeg omdat hy kort ná sy geboorte polio gehad het.

"Ek kan nie loop sonder die hulp van krukke nie. Ek kan ook nie my bene buig nie. Van 'n jong ouderdom af het ek met ysters om my bene geloop," vertel die Kapenaar.

Maar Christie laat nie toe dat sy gestremdheid hom onderkry nie. Inteendeel.

“Ek sal nie sê dat daar vir my daaglikse uitdagings is nie omdat ek so gebore is en dis al wat ek ken. Ek het van kleins af probeer om soveel moontlik uitdagings onder die knie te kry omdat ek alles saam met my susters en broers wou doen. Dit het my gemotiveer,” vertel Christie.

Fiksheid was nog altyd vir Christie belangrik. Fot
Fiksheid was nog altyd vir Christie belangrik. Foto: Verskaf
Dis dié motivering wat aan hom in 1981 junior paraplegiese Springbokkleure vir swem en tafeltennis besorg het. “Ek was ’n goeie gimnas en kon in ’n handstand op my krukke loop,” sê Christie.
 
Christie was as kind baie aktief en het Springbokkleure vir swem en tafeltennis behaal. Foto: Verskaf

Fiksheid was nog altyd ’n groot deel van sy lewe. “Maar my ouderdom van 55 haal my nou 'n bietjie in,” sê hy en lag. Hy het selfs al aan rolstoel-basketbal deelgeneem. 

“My skoonseun is net so lief vir avonture soos ek en hy is ook ’n baie spontane mens. Op Valentynsdag het hy my sommer so spontaan gevra of ek saam met hom Leeukop wil gaan klim en ek sê nie juis nee vir so 'n uitdaging nie,” sê Christie.

Die “avontuur” het hom sowat drie en ’n half uur geneem om tot bo-op die piek te kom en twee en ’n half uur tot onder.

“My eerste gedagte toe ek dit tot bo maak, was: Jy’t dit gemaak tot bo, mooi man! Maar terselfdertyd het ek gedink: Nou moet jy nog al die pad af, ou maat,” vertel hy. 

Hy het homself verbaas. En hy het oral langs die pad komplimente en bemoediging van mede-stappers gekry.

“Ek was so trots op myself. Ek het nie gedink ek sal dit op my ouderdom nog maak nie.”

Christie het op Valentynsdag met die berg gaan kli
Christie het op Valentynsdag die berg gaan klim. Foto: Verskaf

Leeukop was nie die eerste berg wat hy met sy krukke aangepak het nie.

“Ek en my twee dogters, Nicky en Mandie, het altyd probeer om in skoolvakansies ’n punt daarvan te maak om Tafelberg te gaan klim. Hierdie was die eerste keer dat ek tot bo-op Leeukop geklim het.

"Ek het nie eens geweet my skoonseun neem foto’s van my nie. Toe ek eindelik bo kom, was ek moeg en ek moet bieg dat ek nie meer so fiks gevoel het soos vroeër jare nie, maar toe ek eers bo is, was dit amazing en alles die moeite werd.

Om Leeukop te klim is maar net die begin vir Chris
Om Leeukop te klim is maar net die begin vir Christie wat hou van "avonture". Foto: Verskaf

“My dogters, skoonseuns en drie kleinkinders is natuurlik baie trots op my dat ek die berg tot bo kon uitklim, maar as ’n prestasie op sy eie en nie omdat ek dit met of sonder krukke gedoen het nie. Hulle kyk nog altyd verby dit. Ons het wel gespot omdat ek nou begin ouer raak.”

Maar hy sal dit beslis weer doen, sê Christie.

“Daar is nog baie wat ek wil doen –  Tafelberg op en af klim. Dalk nog Robbeneiland toe swem. Grappie. Maar beslis bergklim. Dit sal my help om van my boepens ontslae te raak”.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe