Toni Carroll (25) en Jesse Welsh (23) het verlede Donderdag in die Alfred-hospitaal se kerk getrou en was omring deur familie en vriende, berig Daily Mail. 

Die paartjie het vyf jaar gelede verloof geraak, maar kon nie hul droomtroue bekostig nie omdat hulle destyds hul spaargeld gebruik het om hul dogters, Amelia (3) en Madisyn (5 maande), groot te maak.

Toni was in die vroeë fase van haar tweede swangerskap toe sy ’n knop in haar nek ontdek.

Fase 4 kanker en moontlike dodelike hartversaking is kort ná Madisyn se geboorte by haar gediagnoseer.

Jesse was vasberade om sy droom te bewaarheid om met Toni te trou, ten spyte van die diagnose. Byna 150 hospitaalpersoneel het gehelp om die dag so spesiaal as moontlik te maak, berig Praticalparenting.com.

Toni, wat 'n stryd voer teen Hodgkins-limfoom en hartversaking, is in die hospitaalgang afgestoot om met die pa van haar twee kinders te trou. Die paartjie het roerende troubeloftes afgelê voordat Toni ’n hartoperasie ondergaan het – wat sy oorleef het. 

“Ek moes vyf weke gelede hoor ek het net vyf tot 10 dae oor saam met haar. Nou is ons getroud en ek kan vir niks meer vra nie,” sê Jesse.

“Dit was pragtig. Ek het gedink dit gaan klein wees en toe is daar hierdie ontploffing van liefde van almal. Dit was perfek. Ek was mal daaroor,” het Toni oor haar troue gesê.

Sy sterk tans aan in die intensiewe sorgeenheid.

Bronne: Daily Mail, praticalparenting.com