Johnny sal Dinsdagoggend vir die derde keer sedert die voorval ingaan teater toe sodat hulle die wonde kan skoonmaak en die verbande kan ruil.

“Hy slaap meeste van die tyd as hy uit die teater kom, maar as hy dan daar wakker word het hy baie seer; alles is dan weer nuut,” vertel sy ma, Dernica, aan Huisgenoot.

Haar moedershart het egter opnuut warm geklop toe Johnny vir die eerste keer oor die naweek regop gesit het. “Dit voel onbeskryflik. Dit wys vir my dat hy besig is om te herstel en dat die Here wel by hom is. Die hospitaal help hom, maar die Here genees hom,” sê sy.

“Dit is ’n ongelooflike gevoel om my kind weer te sien glimlag,” vertel sy. Johnny is mal daaroor as sy oupa met hom speel en geniet die aandag van die gesin wat om sy hospitaalbedjie waak.

Hoe lank dié herstelpad vir klein Johnny gaan duur, weet hulle nog nie, maar die dokter is baie tevrede.

“Johnny sal seker nog so twee maande in die hospitaal wees,” sê Dernica oor Johnny, wat tans in die brandeenheid in ’n hospitaal in Witbank aansterk.

“Hy het al so paar woordjies gesê, maar hy wil nie regtig praat nie. Hy sê wel nou en dan ‘kyk daar’ en dui aan as hy wil eet,” vertel Dernica.

Johnny het verlede week eerste- en tweedegraadse branwonde opgedoen toe hy by die egpaar se huis in Vanderbijlpark in Gauteng met sy klere aan in die bad beland het.

“Ek was sesuur die aand besig om kos te maak,” het Dernica ná die voorval aan Huisgenoot vertel. “My man het geloop om solank badwater vir die kinders te gaan intap. Ons het so twee maande gelede 'n nuwe geyser geïnstalleer. Die water was nog bitter warm, want dit was op sy warmste gestel en ons moes dit nog uitsorteer.”

“Daar was nog net ’n bietjie water in die bad toe ek my man roep om my met iets te kom help. Ek weet nie, maar binne daardie paar sekondes het Johnny weggeglip...”

Klein Johnny het erge brandwonde oor 75% van sy ly
Klein Johnny het erge brandwonde oor 75% van sy lyfie opgedoen. Foto verskaf

As Dernica nou aan al die ondersteuning en gebede wat hulle sedertdien ontvang het, dink, wil haar hart vermurwe.

“Ek kan nie glo daar is so baie mense in die wêreld wat regtig omgee as so iets gebeur nie. Ek wil heeltyd dankie sê vir elke liewe gebed en die ondersteuning wat ons ontvang het,” vertel Dernica.