So vertel Chantelle Slabbert, die eienaar van die geliefde poolhond Koda.

Die verhaal van Koda, wat 'vriend vir ’n leeftyd' beteken, het die land aangegryp toe sy eienaars hom ná 10 jaar opgespoor het. 

“Dis fantasties om hom terug te hê,” vertel Chantelle. “Hy was aanvanklik stil, maar mettertyd het hy meer homself geword.”

Koda was net twee jaar oud toe hy uit sy eienaars se huis in Vredekloof, Kaapstad, verdwyn het. Chantelle sê hulle het nie geweet of hy weggeloop het of gesteel is nie. 

Die Slabberts het ’n mikroskyfie voor sy verdwyning onder sy vel laat inplant en dit was dié skyfie met sy unieke kode wat hom weer aan sy regte eienaars terugbesorg het.

Die kode word op die vervaardiger se databasis geregistreer en wanneer ’n verlore troeteldier na ’n veearts of skuiling gebring word, word ’n skandeerder gebruik om te kyk of die dier ’n skyfie het. Wanneer dit die geval is, word die mikroskyfieregister gebel en die unieke kode word gebruik om die eienaar op te spoor. 

Foto: Verskaf
Die skyfie wat gebruik word. Foto: Verskaf

Die Kaap de Goeie Hoop Dierebeskermingsvereniging (DBV) het Chantelle drie weke gelede gebel en gesê Koda is opgespoor.

“Ek het gedink hulle bel om geld in te samel. Ek kon dit nie glo nie.”

Koda was baie maer toe hulle hom gekry het. “Poolhonde weeg gewoonlik tussen 22 kg en 23 kg en Koda het net 18 kg geweeg.”

Foto: Verskaf
Chantelle en haar ma, Mari Slabbert, saam met Koda en lede van die DBV. Foto: Verskaf

Hulle het eers verskeie toetse op Koda gedoen om seker te maak hy is nie aggressief nie en hy het nie enige siekte of gebreekte bene nie.

Toe Chantelle en haar ma, Mari Slabbert, hom die eerste keer sien, het hy hulle nie onmiddellik herken nie, want sy sig is aangetas. Maar die oomblik toe hy hulle ruik, het hy hulle herhaaldelik begin lek. 

“Hy is baie sosiaal,” vertel Chantelle. “Ons hoop om by ander reddingshond-groepe aan te sluit. En hy hou niks daarvan om alleen agter in die erf toegemaak te word nie. Hy wil heeltyd tussen mense wees en soek heeltyd aandag.”

Koda woon by Mari, aangesien Chantelle intussen in haar eie woonstel ingetrek het, maar sy gaan kuier gereeld by hom.

’n Jonger Koda voor hy weggeraak het. Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Chantelle sê omdat hy effens ouer is, knaag hy gelukkig nie meer aan skoene nie.

Chantelle het intussen ook vir hom Instagram-profiel, Koda the Travelling Husky, geskep in die hoop dat iemand wat Koda in die afgelope 10 jaar teëgekom het, hulle sal kontak en vertel waar hy was, asook om mense aan te spoor om die DBV te laat weet wanneer hulle ’n rondloperhond sien.