In sy roemryke loopbaan was hy keer op keer in die bokskryt om teen die grootste name van sy tyd te baklei. Maar wanneer Gerrie Coetzee deesdae deur die toue klim, is dit as ’n trotse oupa wat sy kleinseun afrig om hopelik ook eendag swaargewigwêreldkam­pioen te word.

Op 19 is Dillion Coetzee uitgeknip ’n jonger Gerrie. Soos sy oupa tref hy jou as skamerig, ’n man van min woorde wat in die kryt sy vuiste die praatwerk laat doen. In die afgelope 18 maande het die jong Coetzee aan twee toernooie deel­geneem en albei gewen.

“Ek het altyd geweet my oupa was ’n bokskampioen, maar het nooit werklik besef hoe groot hy was nie,” sê Dillion.

Gerrie het immers 35 jaar gelede derduisende Suid-Afrikaners vroeg­oggend laat asem ophou toe hy in die Richfield-colosseum in Ohio teen Michael Dokes geveg het om die Wêreldboksvereniging se wêreldkampioen te word.

Dit was die derde keer dat Gerrie as beroepsbokser na die gesogte wêreldswaargewigtitel gemik het.

Vier jaar tevore, in 1979, het hy teen die Amerikaner John Tate en ’n jaar later teen Mike Weaver, ook ’n Amerikaner, verloor.

Veral die nederlaag teen Weaver was ’n bitter pil om te sluk, want die stewige uitklophou wat Gerrie in die 13de ronde gekry het, was die eerste van sy loopbaan.

Maar pleks van daarna sy bokshandskoene wegpak, het hy aanhou oefen. Want daardie titel is hom beskore, het hy geglo.

Vroegoggend op 23 September 1983 het die kommentators se stemme in byna elke huis in Suid-Afrika opgeklink toe hulle die atmosfeer in die volgepakte stadion beskryf.

Saam met die meer as 7 000 toeskouers kon Gerrie se aanhangers by die huis elke beweging van die twee beste swaargewigboksers in die wêreld volg, hul vinnige voetwerk en die houe waarmee hulle mekaar moker.

In die 10de ronde, met bloed wat drup-drup uit ’n snywond bo Gerrie se oog, het hy Dokes eindelik met ’n uitklophou grond toe laat syg.

Nie eens ’n gebreekte hand kon Gerrie keer om hoog in die lug op te spring en toe agteroor op sy rug neer te slaan van loutere vreugde nie.

Op daardie onvergeetlike oomblik in ons sportgeskiedenis het Gerrie die eerste Suid-Afrikaner geword wat die titel swaargewigbokskampioen huis toe bring.

Skielik was hy nie meer Gerrie “Seer Handjies” Coetzee nie, maar Gerrie die wêreldkampioen.

Hier in die boksgimnasium in Ottery, Kaapstad, sit die voormalige kampioen sy twee hande langs mekaar op die tafel voor hom neer.

Gerrie se hande het telkemale gebreek, vandaar sy bynaam, “Seer Handjies”.

Die ou, geplooide hande is vol merke wat elk ’n storie kan vertel. Wanneer hy die palms teen mekaar druk, sien jy sy linkerhand se vingers is heelwat korter as sy regterhand s’n.

“Dit is van al die operasies wat ek deur die jare moes kry,” vertel Gerrie, wat gereeld sy vingers en selfs sy hande in die bokskryt gebreek het.

Hy moes spot daaroor verduur toe sy jare lange teenstander Kallie Knoetze hom destyds die bynaam “Seer Handjies” gegee en Leon Schuster ’n liedjie oor “Gerrie Seer Handjies Coetzee” geskryf het.

Sy probleme met sy hande was een van die redes waarom hy die titel wêreldkampioen die volgende jaar aan die Amerikaner Greg Paige moes afstaan.

Gerrie, oftewel die Boksburg Bomber, wys die littekens ná die operasie aan sy hand (9 Maart 1984). Foto: Gallo Images/Getty Images.

“My hand het in daardie geveg heel­temal gebreek. Die mense wat onder die kryt gestaan het, kon die geluid hoor,” onthou Gerrie.

“Maar vandag het ek geen pyn in my hande nie,” voeg hy by.

Op 63 is hy steeds ’n lenige figuur van 1,92 m met ’n grys skynsel in sy eens ­donker hare. Langs hom sit Dillion, ’n aantreklike donkerkop, op 1,86 m ’n raps korter as sy beroemde oupa. Hy trek die skaal op ’n stewige 85 kg.

Die trots straal uit Gerrie, ’n pa van drie, se oë toe hy na sy kleinseun, die oudste van sy en sy vrou, Rina (62), se sewe kleinkinders, kyk. Dillion is hul oudste dogter, Lana Coetzee, se seun.

Gerrie en Lana, Dillion se ma. Foto: Gallo Images/Getty Images.

“Ek is nie iemand wat voorspel nie, maar as ek so na hom kyk, voel dit vir my hy kan die volgende wêreldkampioen word. Dit wat ek die afgelope 18 maande by hom gesien het, is ongelooflik,” sê ­Gerrie van die tyd dat hy Dillion afrig.

Gerrie en sy gesin in Kalifornië. Foto: Gallo Images/Getty Images.

As kind het hy gereeld speel-speel teen sy oupa se hande of ’n slaansak in die motorhuis geboks. Op skool het hy “ ’n bietjie rugby’’ gespeel, vertel Dillion, maar so twee jaar gelede het hy ál meer in boks begin belangstel.

Dillion, wat vir sy oom Gerhard Coetzee in sy loodgietersonderneming werk, oefen elke aand twee uur lank. Elke Dinsdag- en Donderdagaand het hy en sy oupa ’n oefensessie in die gimnasium.

Is sy oupa ’n streng afrigter?

“Nie so baie nie,” sê Dillion.

“My oupa is met ’n belt ge­slaan as hy nie die slaansak hard genoeg geslaan het nie. Dit is darem glad nie die geval met my nie,” lag hy.

Gerrie se pa, Flip, het hom destyds afgerig.

Toe Gerrie met die geboorte van sy middelkind pa van ’n seun word, wou hy nie druk op Gerhard plaas om te boks nie. Hy het wel sy enigste seun ’n bietjie touwys gemaak in die kryt, maar pleks van bokser word, het Gerhard ’n ruk in Amerika voetbal gaan speel.

Ook Gerrie se kleinseun Ethan Wilson, sy jongste dogter, Tana, se kind, is ’n ­kranige rugbyspeler. Op 12 draf hy al vir die Baba-Haaie uit.

Tot dusver is Dillion die enigste kleinseun wie se kop kryt toe staan. En met ’n kombinasie van goeie gene, talent en ure se oefening hoop hy om in sy oupa se voetspore te volg.

Oupa en kleinseun in die bokskryt. Gerrie leer sy tegnieke slegs aan sy kleinseun.

Sy oupa is sy held, sê hy. Hy kyk vol bewondering na Gerrie terwyl dié stories oor sy boksdae vertel.

Op vyf het Gerrie se pa hom al daar in Boksburg, waar hy groot­geword het, leer boks. Op 10 het hy in Benoni aan sy eerste boksgeveg teen ene Hennie Colyn deelgeneem.

“Hennie was my eerste sege, en die gevoel was thrilling,” onthou Gerrie.

“My ma se senuwees was heel­temal op. Maar my pa het elke week vir my een kroon (destyds 50c) gegee om my te motiveer om aan te hou boks.”

Op 15 het Gerrie skool verlaat en ’n tandtegnikus geword. Tussendeur het hy ’n strawwe oefen­program gevolg.

“Soggens het ek vyfuur opgestaan en 18 keer om die blok gedraf terwyl my pa tyd hou. Dan het ek gaan bad. My ma het vir my ProNutro gegee, en ek het die 2 km stasie toe gehardloop. Wanneer die trein in Germiston stop, het ek die 1 km kantoor toe gehardloop.

“En dan moet ek die middag weer terug. In die aand het ek in die gim­nasium of motorhuis oefen.”

Gerrie het elke jaar vandat hy 12 was tot hy 16 geword het die Transvaalse, Oos-Transvaalse en Suid-Afrikaanse juniorkampioenskapsreeks gewen.

Op 17 het sy pad die eerste keer in ’n bokstoernooi op Bronkhorstspruit met dié van Kallie Knoetze gekruis. Gerrie het vol selfvertroue in die kryt geklim, maar in die tweede ronde teen Kallie verloor.

“Sjoe, dit was verskriklik sleg vir my en my pa,” onthou Gerrie.

Drie maande later het die twee jong boksers weer teen mekaar geveg, en dié keer het Gerrie gewen. Teen die tyd dat hulle ses keer teen mekaar te staan gekom het, het elkeen drie gevegte gewen.

In een daarvan het Gerrie vir Kallie ’n uitklophou gegee – en op daardie oomblik het hy geweet hy gaan nog eendag die wêreldtitel vir swaargewigboks wen.

’n Jong Gerrie (toe 28) het in 1983 die gesogte swaargewigtitel huis toe gebring.

Nou koester Dillion dieselfde ambisie – en met ’n voormalige wêreldkampioen as afrigter én oupa in sy hoek, is dit nie ’n onmoontlike droom nie . . . 

FOTO'S: JACQUES STANDER, AFRICA MEDIA ONLINE, BETTMANN/CORBIS