Marinda Steyn (51), ma van Marcel (20) en Le Roux (22) Steyn, is ook Woensdag in die hooggeregshof in Johannesburg gevonnis.

Sy het skuld erken op aanklagte van rampokkery, moord, roof, sameswering tot moord, bedrog en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Regter Colin Lamont het haar tot 11 keer lewenslank plus ’n verdere 115 jaar tronkstraf opgelê. Sy sal haar straf aaneenlopend uitdien.

Nadat hy haar pleitooreenkoms deurgegaan het, het hy haar die geleentheid gebied om iets te sê.

“ ’n Mens maak keuses wat gevolge het en ek aanvaar dit,” het Marinda gesê.

Ná afloop van die verrigtinge het Anthony Scholefield (64) se seun, Roland, vir Marinda ’n kras woord toegevoeg en gesê sy is ’n skande.

Kapt. Ben Booyens, ondersoekbeampte, het die familie van die slagoffers wat in die hof was, gevra of hulle gelukkig is met die vonnis. Hulle het soos een man gesê: “Ja, ons is.”