In die fliek lig die bobbejaan, Rafiki, die leeuwelpie, Simba, hoog op ’n rots bo sy kop uit om hom aan sy toekomstige onderdane te wys. En alles gebeur op die maat van Elton John se Circle of Life.

In die regte lewe was daar nie musiek of olifanttrompettergeskal nie. Die Iraeliese fotograaf Dafna Ben Nun het dit verlede week tydens 'n safari-uitstappie reggekry om ’n baie lewensgetroue weergawe van die fliektoneel op film vas te vang.

Foto's: Magazine Features

Haar foto is deur die hoofstroommedia opgeraap en Britse koerante het dit selfs op die voorblad gebruik.

“Ek is ’n natuurfotograaf,” vertel Dafna aan Huisgenoot. “Die foto is verlede week in Zimbabwe geneem. Ek kan nie glo dit het so vinnig oor die wêreld heen beroemd geraak nie. Ek kry boodskappe van oraloor en ek dink dis fantasties,” voeg sy by in ’n Messenger-boodskap aan Huisgenoot.

Sy het een oggend ’n troppie diere by ’n watergat dopgehou, het sy aan die televisiekanaal Hadashot vertel.

Dafna het gehoor hoe mense opgewonde gil en sy was net betyds om die foto te neem van die aap wat ’n klein apie in die lug hou. Hy het die kleinding by sy ma gegryp, maar net lank genoeg vir ’n paar vinnige kameraklieke. Die baba-aap was gou-gou weer terug in haar regte ma se arms.