Die skrywers Dawn Hubsher (60) en Cher Hubsher (30), van Florida en New York in Amerika, lyk dalk soos tweelingsusters, maar is inderwaarheid ma en dogter.

Hulle het altyd na mekaar getrek, maar in Cher se tienerjare het die ooreenkomste duideliker geraak.

Cher het dit aanvanklik vreemd gevind om die enigste kind by die skool te wees met ’n ma wat “jonk” lyk, maar was kort voor lank versot daarop – sy het selfs vir Dawn as “een van die meisies” na haar hennepartytjie genooi.

Cher en Dawn
Die ma en dogter het 'n baie hegte band. Foto: Mediadrumworld.com/ @cherhubshe/Magazinefeatures.co.za

Die twee se eenderse voorkoms het vir hulle ’n gesamentlike 75 000 aanhangers op Instagram besorg, en het al selfs famille en vriende geflous – insluitend Cher se man, Jared Gopman (30).

“Ek en my ma het een keer dieselfde kleur uitrusting gedra. Ons het albei lang, donker hare en lyk dieselfde van agter,” vertel Cher.

“My man het na my ma gestap en haar op die boude gepiets en gedink dis ek. Elke ou wat ek mee uitgegaan het, het altyd gesê: ‘Ek weet hoe jy oor 30 jaar gaan lyk,’ en hulle was bly om te sien ek sou nie veel verander nie.

“Mense dink gedurig ons is susters. My ma se vriendin het een keer met haar gesels en gedink sy is ek. Toe ek 15 was, het mense begin dink ons lyk dieselfde. Ek wou altyd hê my ma moes soos ’n tipiese ma lyk, maar soos ek ouer geword het, het ek begin waardeer wat ons het.

“Omdat my ma so jonk gelyk en opgetree het, het ons vriende geword en sy het selfs my hennepartytjie bygewoon.”

Cher en Dawn
Foto: Mediadrumworld.com/ @cherhubshe/Magazinefeatures.co.za

Dawn en Cher het saam A Bond That Lasts Forever, ’n boek oor hul lewensreis, geskryf. “Die boek is ’n versameling swaarverdiende wyshede oor hoe om die ma-en-dogterverhouding van jou drome te skep,” sê Dawn. “Dogters sal praktiese raad kry oor alles van hoe om te leer vergewe, tot hoe om doeltreffend te kommunikeer ten spyte van ’n generasiegaping.

“Ma’s sal leiding vind oor hoe om die delikate balans tussen betrokke wees en ‘helikopter-ouerskap’ te handhaaf terwyl hulle ’n vriendin en vertroueling bly.”

Dawn is natuurlik in die wolke dat sy vir haar dogter se suster misgis word – talle aanvaar sy is die helfte van haar ouderdom.

Dawn (nou 60) deel haar wenke oor hoe om ’n jeugdige voorkoms te handhaaf en jonk van gees te bly.

“Mense raai gewoonlik ek is in my dertigs, en dis ’n reusekompliment,” sê Dawn. “Toe Cher jonger was, het mense altyd gesê: ‘Het jy alleen vir Cher verwek,’  want sy het my hele genetiese samestelling. 

Cher en Dawn
Foto: Mediadrumworld.com/ @cherhubshe/Magazinefeatures.co.za

“Om ’n dogter te hê, help my om jonk te bly, want Cher hou my op datum met die jongste neigings en style. Ons is ook dieselfde grootte en kan in mekaar se klerekaste boer, en omdat ons so eenders lyk, lyk dit wat goed aan een van ons lyk, ook goed aan die ander een.

“Oefening, ’n plantgebaseerde dieet, goeie velsorg, genoeg slaap en water is alles belangrik in die handhawing van ’n jeugdige voorkoms. Ouderdom is net ’n syfer. Net omdat ons ouer word, beteken nie ons moet so optree nie. ’n Positiewe ingesteldheid is belangrik.

Cher en Dawn
Dawn was met elke oomblik aan Cher se sy tydens haar swangerskap. Foto: Mediadrumworld.com/ @cherhubshe/Magazinefeatures.co.za

“Om jou dogter as jou beste vriendin te hê, is werklik wonderlik, want jy weet julle sal altyd mekaar se beste belange op die hart dra. Om eenders te lyk, is net ’n prettige bonuspunt.”