Becca Scheer met twee van haar kinders.
Becca Scheer met twee van haar kinders. Foto: Magazine Features.

Becca Scheer (31), ’n lewensafrigter van Mechanicsville in Virginia, Amerika, het as kind reeds met haar gewig gesukkel. Om moeilike emosies te hanteer, het sy haarself met kos getroos, en op haar swaarste het sy sowat 160 kg geweeg – ’n skaal kon nie haar presiese gewig bepaal nie. 

Becca moes gedurig by vriende en familie hoor: “Jy is te mooi om so groot te wees.”

Haar ouma het eenkeer selfs gevra hoekom Becca se man, Matt (33), toe haar kêrel, saam met haar sou wou wees. 

Toe Becca se neef in 2018 aan ’n heroïen-oordosis dood is, het sy besef haar kosverslawing kan moontlik ook haar lewe eis. Sy kon nie met die gedagte saamleef om Matt en haar kinders, Jax (8), Chris (6) en Calvin (6) agter te laat as sy sou sterf nie.

Becca met haar kinders by die skool.
Becca met haar kinders by die skool. Foto: Magazine Features.

Becca het ná haar neef se begrafnis in April 2018 ’n 28 dae lange suikerdetoks saam met ’n lae-koolhidraat-dieet gevolg. Soos haar eetgewoontes verander het, het sy oorgeskakel na ’n keto-dieet – ’n hoëvet-, lae-koolhidraat-dieet wat die liggaam dwing om meer vet te verbrand. 

Nadat sy dit vir drie maande gevolg het, het Becca agtergekom sy eet slegs wanneer sy honger is.

Becca met haar man, Matt, voor haar gewigsverlies.
Becca met haar man, Matt, voor haar gewigsverlies. Foto: Magazine Features.

Sodoende het sy ’n tipe vas-benadering tot eet ontwikkel. Dit het beteken Becca het 20 uur per dag gevas en haar etes binne die oorblywende vier ure gehad. Die tegniek speel klaar met ’n gepeusel en dwing die liggaam om bestaande energie te verbrand.

Becca weeg nou ’n ongelooflike 73 kg nadat sy sowat 89 kg oor 11 maande afgeskud het.  

Om gewig te verloor, het Becca se lewe geheel en al verander. Sy sou nie meer bang hoef te wees om in klein ruimtes soos restauranthokkies, vliegtuigsitplekke of wipwaritte in te pas nie.

Vriende en familie het haar nuwe uitgaande, vrolike houding opgemerk, en Becca is deesdae vol energie wanneer sy met haar kinders speel.

Becca wys haar nuwe vietse lyfie.
Becca wys haar nuwe vietse lyfie. Foto: Magazine Features.
 

“Ek het nooit geleer hoe om my emosies te verwerk nie, en het dit jare lank met kos probeer troos,” vertel Becca nou, en voeg by sy is nie kwaad vir haarself oor sy nou eers die gewig afgeskud het nie. 

“Dit was immers toe ek op my swaarste was dat ek sterk genoeg was om te besluit om my lewe reg te ruk.”

Becca het al sowat 89 kg verloor.
Becca het al sowat 89 kg verloor. Foto: Magazine Features.

En noudat die vetjies weggesmelt het, meen Becca sy kruip nie meer “weg vir die wêreld nie” en voel “gemaklik en selfversekerd in my nuwe self”.

Becca neem 'n selfie.
Becca neem 'n selfie. Foto: Magazine Features.

Becca het voorheen tussen 6 000 en 8 000 kalorieë per dag ingeneem.

Vir ontbyt het sy vier worsie-en-kaas-muffins gehad, gevolg deur drie taco’s, ’n pizza, twee hoender-quesadillas en ’n groot Diet Pepsi van Taco Bell vir middagete. Aandete was twee lang toebroodjies van Subway met hoender, ekstra kaas en ekstra sous.

Nou neem Becca net sowat 1 900 kalorieë per dag in.

Vanweë haar vas-eetplan slaan sy gewoonlik ontbyt oor en drink net swart koffie.

Vir middagete eet sy ses tot agt buffalo-hoendervlerkies met twee stukkies broccoli, en vir aandete twee salmfilette, ’n hele murgpampoentjie en ’n groot spinasieslaai met aarbeie, bloubessies, bokkaas en ’n vinaigrette-sous. Sy drink elke dag ook drie liter water. 

Becca drink swart koffie tydens haar vastyd.
Becca drink swart koffie tydens haar vastyd. Foto: Magazine Features.

“Mense is stomgeslaan deur my transformasie,” sê sy. “Hulle is altyd die meeste beïndruk met hoe my gees verander het – dat ek nou meer uitgaan. My man se oom het my nie eens herken nie. Hy het gedink my man het ’n ander vrou na ’n geleentheid gebring. Ons het lekker daaroor gelag.

“As jy wil gewig verloor, hou dit eenvoudig. Ek het ontdek die beste ding wat ek ooit vir myself kon doen, was om my liggaam van suiker te ontgif. Ek eet nie meer verwerkte suikers nie, maar ek eet wel vrugte en natuurlike heuning.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe