Die Young-egpaar van Pennsilvanië, Jacob en Maxine, het baie meer gekry as waarop hulle gehoop het toe Maxine met ’n vierling swanger raak – dit kort nadat hulle vier kinders aangeneem het en ook reeds 'n biologiese seuntjie van hul eie gehad het. 

“Dit was chaos,” het die paartjie aanvanklik aan die televisiekanaal WFMZ gesê ná Maxine aan klein Henri geboorte geskenk het ná hul vier sibbe aangeneem het. “Ons het binne ’n jaar van nul tot vyf gegaan.”

Die paartjie is in Mei 2016 getroud en wou dadelik met ’n familie begin, volgens die GoFundMe-blad wat Jacob se ma, ArLette Young, begin het.

“Maxine wou nog altyd ’n ouer wees wat pleegsorg doen en het daarvan gedroom om ’n groot familie te hê met aangenome en biologiese kinders,” skryf ArLette. “Jake was heelhartig deel van die plan en het baie van die idee gehou om ’n huis te hê wat gevul word met baie liefde en lag, selfs ’n bietjie chaos.”

Young-vierling
Maxine en Jacob Young met hulle vier aangenome kinders en een biologiese seuntjie, Henry. Foto: Facebook, Noticias Talara

Die paartjie het die nodige stappe gedoen en in Julie 2017 het hulle 'n familiegroep van drie sibbe in pleegsorg geneem en 'n maand later die driestuks se pasgebore suster by die hospitaal gaan haal en ook ingeneem.

Intussen wou hulle hul eie baba hê en ná verskeie miskrame, kunsmatige inseminasie en in vitro-bevrugting het hulle in Oktober 2018 hul seuntjie, Henry, in die wêreld verwelkom. 

In Desember 2019 het hulle die vier kinders wettig aangeneem en wou hulle nog een baba van hul eie hê. Hulle word toe geseën met vier.

Die babas is op 31 Julie op 32 weke gebore en hoewel hulle eers in broeikaste moes bly, is twee van die vierling reeds tuis. Die kinders word genoem Silas Ledger, Theo Alexander, Beck Killian en Cecilia Hudson.

Young-vierling
Die Young-vierling toe hulle almal steeds in broeikaste was. Foto: Gofundme

Hulle het tussen 1,5 en 3 kg met geboorte geweeg. 

Dit lyk of die Young-egpaar gewis die bietjie "chaos" gaan kry waaroor hulle so gedroom het . . . maar ook hope liefde en lag.

Bykomende bron: Dailymail

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe