Wie sou ooit kon raai dat ’n miertjie soveel moed aan die dag sou lê om ’n diamant, veel groter as hyself, onder die wakende oë van ’n groep mense by ’n diamantbeurs vas te lê?

Terwyl die gesogte edelsteen stewig vasgeklou word, skarrel die miertjie teen verbasende spoed verby ’n bondel dokumente doelgerig op pad na ’n skootrekenaar. Maar dis asof die rakker deeglik bewus is van die erns van die misdaad wat besig is om gepleeg te word.

Nes ’n skelm (in flieks natuurlik) word daar gereeld omgekyk en omgedraai, so asof daar seker gemaak word niemand agtervolg hom om hom van sy buit te ontneem nie.

Kommentaar onder die video sluit in die vraag der vrae: “Hoe gaan jy aan die baas verduidelik ’n mier het ’n diamant gesteel?” Beslis ’n strikvraag wat min mense oortuigend sal kan beantwoord.


OMG 420 sien natuurlik net die liefde seëvier. “Werkermier is op pad om die koningin-mier om haar hand te vra sodat hy nie langer hoef te werk nie.”

LowFrequency het besluit as die mier so hard gewerk het om daardie knoets rond te sleep, verdien hy die diamant terwyl Michelle Howard tot die logiese gevolgtrekking kom dat “diamante ’n mier se beste vriend is”.

Daar word gesinspeel op die fliek The Italian Job (waar Charlize Theron in die tweede weergawe die hoofrol vertolk het) en die titel vir dié mier-eskapades word nou The Itali-ANT Job genoem en RootedHat sê die mier se span wag om die hoek in hul mini-Minis om te ontsnap.

10 kitsfeite oor miere
  • Daar is al meer as 12 000 mierspesies wêreldwyd geïdentifiseer.
  • Miere kan 10-50 keer hul eie gewig dra. Maar koes vir die Asiese wewermier wat tot 100 keer sy eie gewig kan dra.
  • Hoewel miere nie ore het nie (letterlik, en nie figuurlik gesproke nie), span hulle vibrasies in wanneer hulle vir kos soek of bedreig word. Die orgaan wat daarvoor ingespan word, is onder die knie geleë.
  • Vergeet van die uitdrukking “so oud soos die berge”. Volgens ’n studie deur Harvard en Florida se universiteite bestaan miere al meer as 130 miljoen jaar.
  • Die koeëlmier van die Amasone word nie verniet so genoem nie. Wanneer hulle jou steek, voel dit glo asof jy deur ’n koeël getref word.
  • Die valkakemier kan sy kake teen ’n spoed van 225 km per uur toeklap.
  • Die grootste mierkolonie wat nog ooit gevind is, was ’n superkolonie wat uit 33 mierspesies bestaan het en oor ’n afstand van 5 945 km gestrek het!
  • Terloops, die grootste mier wat nog raakgeloop is, is 60 cm lank. Gelukkig is dié monstermier in fossielvorm en die kans is skraal dat jy in die werklike lewe deur een gekonfronteer sal word.  
  • Die aangetekende rekord vir die langslewende mier behoort aan ’n koninginmier wat 30 jaar oud was.

Bronne: natgeokids.com, rentokil.com, futurism.com