Mnr. Li (26) is op 6 September afgeneem waar hy op die Yinchuan-Kunming-snelweg in die suidelike Chinese munisipaliteit Chongqing aan die voorkant van sy eksvrou se motor vasklou.

Sy gewese vrou, wat as Me. He (25) bekendstaan, was in daardie stadium in die voertuig saam met ’n manlike kennis van haar, ene Mnr. Fan (54).  

Op die video, wat Me. He van die voorste passasiersitplek verfilm het, klou haar taai eks om lewe en dood aan die voertuig vas terwyl dit voortsnel. 

Luidens ’n verklaring deur die verkeerspolisie in Chongqing het Mnr. Li sy eksvrou in die Rongchang-distrik op straat raakgeloop en met haar begin stry oor uitstaande skuld ná hul onlangse egskeiding.

Die twee het ooreengekom om mekaar by ’n polisiekantoor te kry sodat die situasie bemiddel kon word. Maar die besprekings het skynbaar op ’n dooie punt uitgeloop en Me. He is in Mnr. Fan se motor weg.

Die polisie sê haar woedende eksman het hulle in sy eie voertuig agternagesit.

man hang op sy eksvrou se kar in verkeer
Dit is die oomblik dié toe ’n man aan die enjinkap van sy eksvrou se motor vasgeklou het. Foto: Chongqing News/Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Mnr. Li het na bewering hul motor op die snelweg tot stilstand gedwing en toe voor die voertuig gaan staan om te probeer verhoed dat hulle verder ry, maar hy is saamgekwarwei toe Mnr. Fan wegry. 

Mnr. Fan het vir sowat 20 km gery voor die polisie hulle afgetrek het, sê die owerhede in die aanlyn verklaring. Daarvolgens is nie een van die drie betrokkenes beseer nie, maar die polisie het die drietal aangehou. 

man hang op sy eksvrou se kar in verkeer
Foto: Chongqing News/Newsflash/Magazinefeatures.co.za

’n Polisiewoordvoerder het aan die nuuswebtuiste The Cover in Chengdu gesê: “Ons het ons patrollievoertuie na die toneel gestuur, maar moes die motor nog 5 tot 6 km agtervolg voor dit afgetrek is.”

Die polisie het nie op Me. He se verhouding met Mnr. Fan kommentaar gelewer nie, en die ondersoek duur voort.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe