Hy en Terrie-Ann, ma van ’n dogter en seun, het op 5 Januarie vanjaar in ’n rusie by haar huis in Cimla by Neath in Suid-Wallisoor hul verhouding betrokke geraak.

Hy het beweer in die hitte van die stryd het sy hom met ’n mes aangeval en hy moes homself verdedig — deur haar 26 keer met ’n mes te steek . . .

Asof dit nie koelbloedig genoeg is nie, het hy haar bebloede lyk net so gelos, die gebuigde mes afgespoel, geld uit haar beursie gevat, ander klere aangetrek en drankies in Schooners, ’n kroeg naby Neath, gaan geniet – met haar geld.

Beeldmateriaal van kringtelevisie wat binne-in die kroeg geneem is, wys dat hy oënskynlik in ’n goeie bui is en dat hy selfs ’n ronde drankies vir ander mense in die kroeg gekoop het.

Hy was geen vreemdeling nie en het glo maklik tot 38 biere per dag weggeslaan.

Nadat sy “dors” geles is en hy volgens sy eie mening sy senuwees voldoende kalmeer het, het hy ’n noodoproep na die polisie gemaak.

Leuens

John het getuig hy moes homself heftig “verdedig” en dat Terrie-Ann in die mes vasgeloop het.

Maar die getuienis het die teendeel bewys, naamlik dat Terrie-Ann 13 steekwonde in haar nek, drie aan haar sleutelbeen, verdedigingswonde aan haar hande en ’n steekwond van 8 cm in haar hart opgedoen het.

“Ek is lief vir jou; ek is jammer,” het hy vir die polisie gesê was Terrie-Ann se laaste woorde aan hom toe hy die huis verlaat het. Volgens hom het sy wel ’n bietjie gebloei maar sy was “oukei”.

'n Verhouding vol geweld

Hulle het middel 2017 begin uitgaan. Volgens haar dogter was hy aanvanklik “borrelend en prettig”, maar kort voor lank het die vrolikheid verdwyn en die een ná die ander rusie begin opduik.

Twee weke nadat sy en John begin uitgaan het, het sy met ’n geswelde lip by die werk opgedaag. Sy het hom teen haar kollegas verdedig omdat hy glo sy spyt oor die voorval uitgespreek het.

Tog het kollegas getuig sy het gereeld met kneusplekke by die werk opgedaag, allermins tekens van ’n gesonde verhouding. Sy wou hom glo nie afsê nie omdat sy jammer vir hom gevoel het.  

Hy het haar reeds in Augustus verlede jaar glo weer aangerand en in Oktober gedreig om haar dood te maak as sy haar swangerskap sou beëindig.

In November het hy haar gebel en gedreig om haar en haar twee kinders dood te maak, ook dat hy haar huis sou opblaas. ’n Opname van dié gesprek is in die hof gespeel.

Daar was ook ’n ander keer op ’n onbekende datum toe hy haar glo gewurg het tot sy blou in die gesig geraak het. Gelukkig was haar dogter tuis en het sy ondersoek ingestel toe sy die paartjie hoor stry.

Die dogter het getuig sy moes John in sy gesig slaan sodat hy haar ma kon laat gaan. Hy het dit gedoen, net om haar aan die nek te gryp. Hulle kon gelukkig daarin slaag om hom uit die huis te kry en die polisie is deur een van die bure ontbied.

Terrie-Ann het hom daarna in ’n teksboodskap gevra hoe hy dit aan haar kon doen. “Jy het my bang gemaak,” lui ’n gedeelte daarvan.

Sy reaksie? “Dit was net ’n kussinggeveg.”

5 Januarie 2018
  • Terrie-Ann het glo twee dae voor haar dood ’n teksboodskap aan ’n kennis gestuur waarin sy vertel sy het iemand anders ontmoet.
  • John het daardie dag na nóg ’n rusie tussen die twee haar selfoon gevat en die boodskap gesien. Dit het hom woedend gemaak.
  • Op 4 Januarie het hy vir haar ’n boodskap gestuur en gesê hy sou kom inloer en sy moes die deur vir hom oopmaak.
  • Op 5 Januarie het hy Terrie-Ann grusaam vermoor, het die hof bevind.

Is jy 'n slagoffer van geweld teen vroue en kinders? Hier's hulp

Dié organisasies kan jou help:

  • Famsa (landwyd): Bel 011-975-7101 of stuur 'n e-pos na national@famsa.org.za vir inligting en hulp.
  • Lifeline (24 uur): 0861-322-322.
  • Powa (People Opposing Women Abuse): 083-765-1235 vir inligting en hulp.
  • Legal Aid South Africa: 0861-053-425.
  • Rape Crisis: 011-642-4345/021-447-9762.