Die ysingwekkende voorval het op 3 Julie in Phoenix, Arizona, plaasgevind.

Phillip Blanks (28), wat Amerikaanse voetbal op universiteit gespeel het, het nie geweet sy hand en oog koördinasie gaan op so ’n dramatiese wyse op die proef gestel word nie toe hy by sy woonplek uitgestorm het nie.

Toe hy gaan ondersoek instel na die geraas, het ’n skrikwekkende toneel hom begroet. Die woonstel, op die derde verdieping van die kompleks oorkant, was aan die brand. Boonop was daar ’n brandende vrou met ’n kind in haar arms.

Phillip en nog ’n man het nader gestorm, maar dit was Phillip wat die lewensreddende vangslag uitgevoer het. “Hy het perfek in die buig van my elmboog geval,” het Phillip aan die televisienuusdiens ABC7 gesê.

“Hy het soos ’n skroef deur die lug gedraai,” het hy die vangskoot onthou.

Terwyl Phillip met die seuntjie in sy arms van die brandende toneel weghardloop, kan van die omstanders se histeriese gegil gehoor word waarin hulle die vrou aanmoedig om te spring: “Jump, lady, jump!” Maar tevergeefs.

En Phillip?

“Instink. Daar was nie baie gedink nie. Ek het net gereageer,” het hy beskeie oor sy heldedaad gesê.

Foto: GoFundMe
Foto: GoFundMe

Rachel Long (30) het die grootste offer gemaak wat sy kon: haar lewe. Nadat sy haar driejarige seuntjie, Jamison, van die balkon in Phillip se arms gegooi het, het sy die brandende woonstel teruggegaan om haar agtjarige dogtertjie te red.

Bure het reeds die deur tot die woonstel afgebreek en daarin geslaag om Roxanne (8) uit die inferno te red. Roxanne het volgens een van die bure, Leonard Thompson, brandwonde van "bo tot onder".

Reddingspanne het opgedaag, maar dit was te laat vir Rachel.

Sy word beskryf as ’n pragtige, geesdriftige jong vrou wat voluit geleef het. Juanita Williams, nog een van die woonstelbewoners, sê Rachel was 'n goeie ma wat alles gedoen het en baie tyd saam met haar kinders deurgebring het.

Benewens dat die gesin nou dakloos is, is daar ook groot hospitaalrekeninge wat betaal moet word. Roxanne het glo reeds agt operasies ondergaan. Sy en Jamison is nog albei in die hospitaal.

Daar was 100 brandweermanne op die toneel. Talle mense is met lere na veiligheid gehelp. Jaquil Durr, Genae Pugh, en hul vierjarige seun se woonstel het ook in die slag gebly. Dit is nog nie seker wat die brand veroorsaak het nie.

Bronne: abc15.com, mirror.co.uk, gofundme.com, abc7.com