So meen Deztin Pryor, ’n Amerikaanse komediant, oor sy babaseuntjie. 

Die kleinding het ’n internetsensasie geword ná Deztin onlangs ’n video van hom en sy seuntjie, Kingston, in die sosiale media gedeel het.

Dié komediant het ’n baie oulike video gedeel waarin hy en sy 19 maande oue babaseuntjie op die rusbank sit en die laaste episode van die Amerikaanse dramareeks Empire kyk. 

Maar hoewel DJ (Deztin se verhoognaam) die praatwerk doen oor wat hy dink van dié episode, verstaan nie hy of die miljoene kykers wat die video aanlyn gekyk het, wat Kingston in oulike babataal kwytraak nie.

Die video is so wyd aanlyn versprei dat dit selfs deur Oprah Magazine en ons eie Trevor Noah op Instagram gedeel is.

“Elke gesprek wat ek het as ek onder die invloed van dwelms is,” het die grapman Trevor, aanbieder van The Daily Show, op Instagram gespot. 

Kingston en DJ het selfs onlangs ’n draai op die Amerikaanse nuuskanaal CNN gemaak.

“Ons het Empire gekyk en ek het my mening daaroor uitgespreek. My vriende het my daarna gekontak en vertel hoe baie mense al die video gekyk het. Ek het toe aanlyn gegaan en was heel beïndruk,” vertel DJ.

Die video is reeds 54 miljoen keer op Facebook gekyk.

Kyk hier na die oulike video: