Dit is die nare werklikheid in groot gebiede in Australië van Queensland, Nieu-Suid-Wallis en die noordelike gedeelte van Victoria  wat die afgelope ses maande onder 'n muisplaag gebuk gaan.

Van die inwoners in dié dele van die land het hul beddens en babawiegies se pote in emmers met water laat staan om te keer dat die knaagdiere vatplek daar kry.

Mense wat die gebiede onlangs besoek het, vertel die aaklige reuk tref jou eerste. En sodra daardie stank jou oorweldig, hoor jy die ongediertes en hul piepgeluide.

Yan Zhuang sê dit klink soos die see se golwe of die klank van reën op beton. 

Ben Storer, ’n boer van Warren in die sentrale noordelike gebied van Nieu-Suid-Wallis sê hy onthou die muisplaag van 1984 (die laaste groot muisplaag daar) en ’n paar daarna, maar hy het nog nooit met 'n plaag van dié epiese proporsies te doen gehad nie.

Hy vertel wanneer hy buite stilstaan, probeer die muise selfs om teen sy broekspype op te hardloop.

Sy vrou, Tanya, sê die muise het in November 2020 hul plaas ná die oes ingevaar. “Hulle eet die motorsitplekke se bekleedsel op. Ek moes my mikrogolf, koffiemaker en menger uitgooi, want die muise is oral.”

Muise het ook hul sorghum-oes heeltemal uitgewis.

Kodi Brady, ’n boer in die omgewing van Coonabarabran ook in Nieu-Suid-Wallis, is een van die talle wat baie erg onder die enorme muisplaag deurloop.

Hy het 15 emmers met gif en water om die muise te vang en bring ongeveer ’n uur soggens en saans deur om van dié emmers vol dooie muise ontslae te raak.

Kodi sê hy sukkel geweldig om snags te slaap “want jy hoor die muise in jou mure, op die plafon en op die dak.”

Daar is net mooi geen plek aan die oostekant van Australië waar jy van die knaagdiere kan wegkom nie. Huise, skole, hospitale, graangewasse noem dit en jy sal muise daar kry.

Tonne en tonne graan moes verbrand word omdat die muise dit besmet het. Dis uiters gevaarlik vir diere om die besmette graan te eet.

Die bejaardesorgverpleegster Rebekah Ward het ná werk huis toe gekom en haar woonplek in Gwabegar in ligte laaie gesien oor muise hul elektriese bedrading deurgekou het.

Sy en haar drie seuns, John (12), Charlie (9) en Oliver (7), het net die klere aan hul lyf oorgehou. ’n Buurman, Mark Adams, het daarin geslaag om hul kat, Lexie, en mopshond, Little Miss, uit die vlamme te red.

Die Nieu-Suid-Wallis-regering het vroeër vandeesmaand gratis gif aan die boere aangebied om die muise te help uitroei. Voorlopige opnames dui daarop dat sowat 1 100 landelike inwoners in hierdie stadium geen ander uitweg sien as om die muise te vergiftig nie. Tot dusver het die regering nog nie gehoor gegee aan die wekroep van sommige boere om die middel bromadiolone (’n gif wat knaagdiere doodmaak) te gebruik nie.

Dié gif is tans verbied in Australië en van die boere en omgewingsbewustes waarsku teen die onbeplande effek wat bromadiolone op ander diere kan hê.

Maar Donderdag het die regering bekendgemaak hulle het 5 000 L bromadiolone bekom wat gratis versprei sal word sodra die owerhede toestemming verleen.

Die aarde raak ‘lewend’




Meer oor muise

  • ’n Muis kan gemiddeld 10 keer per jaar of elke drie weke die lewe skenk aan tot ses babamuise.
  • Ná 21 dae is babamuise gereed om na hulself te kyk.
  • Van twee maande kan hulle kleintjies kry.
  • Muise eet gemiddeld 15-20 keer per dag.
  • Hulle eet selfs hul eie uitskeiding om voedingstowwe te kry.
  • In die natuur kan muise tot ’n jaar oud word.
  • Muise kan siektes soos die lewensgevaarlike hantavirus, salmonella en listeria versprei deur hul urine, uitskeidings en nesmaakprodukte.
  • Hulle kan deur sagte beton, hout, rubber, plastiekpype, isoleermateriaal, aluminium en selfs gaspype kou.

Bronne: kidshealth.org, expressdigest.com, nytimes.com, reuters.com, pestworldforkids.org, globalnews.ca, sky.com, firstpost.com, rnz.co.nz  

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe