Al het die meeste stof in 1997 gewaai oor die onbehoorlike verhouding tussen dié twee, het Monica (45) dit Maandag duidelik gemaak haar en die president se sake is net dit: Hulle s’n.

Levi Yonit, die hoofnuusleser van Channel 2-nuusdiens in Jerusalem, het dit tydens ’n regstreekse uitsending van die Jerusalemse konferensiesentrum gewaag om daardie reël te buig toe sy wou weet of Clinton al ooit regstreeks vir haar verskoning gevra het vir die debakel van 1998 en of sy steeds verwag dat hy dit sal doen.

Monica se reaksie daarop? “Ek is jammer, ek kan dit nie doen nie,” toe kom sy orent, sit die mikrofoon ferm neer en stap vinnig van die verhoog af. Levi het nog probeer keer, maar terwyl lede van die gehoor hande begin klap, het Monica agter die skerms verdwyn.

In Junie vanjaar toe die #MeToo-veldtog teen seksuele teistering hoogty gevier het, het Clinton dit duidelik gemaak Monica verdien nie ’n verskoning nie, want “ek het almal in die wêreld verskoning gevra”.

Monica het na afloop daarvan haar reaksie op Twitter gedeel. Daarin verwys sy onder meer na die slaggate en positiewe kant van die internet en volgens haar was die onderhoud bloot ’n opvolg oor ’n toespraak wat sy vroeër gemaak het.

“Dit was nie ’n nuusonderhoud nie. Daar was duidelike riglyne waaroor ons sou praat en waaroor nie,” skryf sy verder en sê die feit dat Levi haar wel daardie vraag gevra het, was ’n blatante verontagsaming van hul ooreenkoms.

“Ek het geloop omdat dit nou belangriker as ooit tevore is vir vroue om vir hulself op te staan en nie ander toe te laat om hul storie te vertel nie. Aan die gehoor: Ek’s jammer dat die onderhoud op dié manier moes eindig.”

Monica Lewinsky en Bill Clinton

Sy was 22 en hy ’n ervare 49 jaar oud toe die twee op 15 November 1995 ’n seksuele verhouding aangeknoop het, wat sporadies oor ’n tydperk van twee jaar geduur het. Een van haar kollegas, Linda Tripp, het van die biegsessies, waar Monica oor die president gepraat het, opgeneem.

Linda het die opnames met Lucianne Goldberg, ’n skrywer wat Clinton nie goedgesind was nie, gedeel. Danksy Goldberg het die opnames by ’n regsfirma wat Paula Jones verteenwoordig het, beland. Paula Jones het in 1991 ’n saak teen Clinton gemaak oor beweerde seksuele wangedrag.

Clinton het aanvanklik alles ontken en het tydens ’n mediakonferensie gesê “ek het nie ’n seksuele verhouding met daardie vrou, mej. Lewinsky, gehad nie.” Maar later moes hy erken daar was “onvanpaste intieme kontak” met Monica nadat die berugte blou rok waarop sy DNS verskyn het, te voorskyn gekom het.

Monica Lewinsky se blou skemerkelkierok wat die skaal laat swaai het. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Terwyl Clinton oënskynlik deur sy vrou, Hillary Rodham Clinton, en die meeste Amerikaners vergewe is en met sy werk kon voortgaan, moes Monica die bitter prys betaal en die blaam vir die verhouding is op haar jong skouers geplaas.

“Ek erken ek het foute gemaak, maar die aandag en die veroordeling wat dit meegebring het, was ongekend. Ek is gebrandmerk as ’n tert, ’n slet, ’n h**r, ’n bimbo, ’n tramp en natuurlik ‘daardie vrou’. Baie het van my geweet, maar min het my werklik geken.

“Dit was maklik om te vergeet ‘daardie vrou’ is ook ’n dimensionele wese met ’n siel.”

Sy het handsakke begin ontwerp, ’n woordvoerder vir ’n dieetprogram geword, ’n graad in Londen behaal en uit die kollig probeer bly. In 2014 het sy as ’n kampvegter begin optree teen boelies.

Bronne: washingtonpost.com, history.com, nydailynews.com, usatoday.com, bustle.com