Jopie spog met 'n indrukwekkende versamling van mo
Jopie spog met 'n indrukwekkende versamling van motors.

Aan die soom van Warrenton in die Noord-Kaap spog die veld met ’n stoppelbaard groen gras ná die verwoestende brande wat die streek verlede jaar geteister het.

Jopie Fourie is bitter dankbaar vir die reën wat ’n bietjie lafenis en die eerste spatsels nuwe lewe sedert die lang droogte gebring het.

Soos sy medeboere in die streek moes hy veg teen die vlamme wat verlede jaar soveel weiding, vee en landbou-infrastruktuur in die dorre provinsie verteer het. Genadiglik het sy pluimveeboerdery hier op die plaas Vaalview ongeskonde gebly.

Dis egter nie al rede vir sy dankbaarheid nie. Sommige dinge kan jy dalk nog vervang, maar nie sy versameling skatte van die verlede nie:

Hy besit sowat 50 veteraan- en klassieke motors, en 30 outydse trekkers. Genoeg om enige petrolkop te laat swymel.

“Ek was al van kleins af mal oor motors,” vertel Jopie (68). “My oupa het mooi motors gehad. Ou bakkies. Ek dink dit is waar my liefde vir bakkies vandaan kom.”

Op die groot werf is daar drie skure, spesiaal ingerig om sy versameling te huisves. Binne, waar die reuk van politoer van nostalgie spreek, blink die metaal net waar jy kyk: ou Chevrolet-bakkies, luukse Rolls-Royce-motors, Volkswagen-kewertjies, en skaars vuurwaens uit die stal van Mercedes en Ford.

“Dit is ’n verlore tyd wat ons nooit sal terugkry nie. Toe motors nie gemaak is om vinnig te ry nie, maar motorvervaardigers eerder gefokus het op die luuksheid en die gemak van ’n motor,” vertel Jopie met ’n mengsel van heimwee en trots.

Met sy tipiese kakiekortbroek, breërandhoed en hande grof van harde werk, is Jopie pure plaasboer, maar dis wanneer hy oor motors praat dat sy passie waarlik opwel. 

Hy wys na twaalf ou Chevrolet-bakkies. “Ek weet nie of daar nog ouens daar buite is wat dieselfde hoeveelheid bakkies as ek het nie, en dan is hulle boonop nog in ’n perfekte toestand.” 

Hy was maar in standerd 6 in die Karoodorp Philipstown toe hy sy eerste ryding met ’n slim plan bekom het. 

Jopie vertel sy liefde vir klassieke motors het al
Jopie vertel sy liefde vir klassieke motors het al kleintyd begin. Foto: Onkgopotse Koloti

“My oupa het ’n bakkie gehad wat uitgebrand het. Daar was ’n ou op die dorp wat graag die onderstel van die bakkie wou gehad het . . . Ek het dit toe geruil vir ’n 1961 Opel-bakkie.” 

In 1968 het ’n bloedrooi Volkswagen-kewer sonder wiele op sy oom se werf Jopie se oog gevang.“Ek het my oom gevra wat is die storie met die kewertjie. Dit het op sy bearings gestaan. My oom het vir my gevra of ek die karretjie as ’n krismisgeskenk wil hê . . .”

Natuurlik wou Japie. “Ek het hom reggemaak en dit was my tweede karretjie gewees.” 

Dit was die begin van sy lang liefdesverhouding met hierdie Duitse “volksmotortjies”. Deur die jare het hy al sowat 30 besit. “Baie van my vriende sê hulle kan my nie sonder ’n kewer indink nie.” 

Toe Jopie in matriek kom, het hy al sy sakgeld gevat en vir R50 ’n Austin gekoop. “Dat mens nou so stout kan wees,” lag hy en trek sy hoed reg.

Ná skool het hy aanvanklik net “een of twee” motors gehad wat hy self herstel het om as alledaagse rygoed te verkoop. Met die wins het hy dan nog ’n motor gekoop.

“Ek het eers later jare in duurder motors begin belangstel. Soos jou Rolls-Royce, en  ook trekkers. Ek het meeste van hulle self gerestoureer. Dan koop jy ’n klassieke- of veteraanmotor vir R8 000 en restoureer hom. Dan is hy skielik R200 000 werd . . . Dit is eintlik ’n baie goeie belegging.” 

Deesdae koop hy egter klaar gerestoureerde vuurwaens. “Toe ek begin ouer raak, het ek besef ek kan nie meer so maklik onder ’n mouterkar lê en stoei nie.” 

In een skuur staan drie kroonjuwele op wiele: ’n gitswart Rolls-Royce, ’n Ford Model-T (die eerste massaproduksie-motor waarvoor ’n spesiale monteeraanleg gebou is), en ’n 1928 Chrysler. 

“Die Chrysler het aan die De Beers-diamantmyngroep behoort,” vertel Jopie. “Toe koning Elizabeth saam met haar ouers in 1947 die diamantvelde kom besoek het, het hulle in hierdie motor gery.” 

Maar hy is veral trots op die majestueuse Rolls-Royce Silver Cloud.

Jopie het jare lank gedroom om 'n Rolls Royce Silv
Jopie het jare lank gedroom om 'n Rolls Royce Silver Cloud te besit. Foto: Onkgopotse Koloti

“ ’n Rolls-Royce is altyd ’n nice to have. Ek het gedroom van ’n Silver Cloud. En toe ek een dag die Auto Trader-webtuiste oopmaak, sien ek daar is wraggies een te koop. “Ek het nie veel vrae gevra nie en dadelik afgery Durban toe om dit te gaan koop.” 

Destyds het hy R120 000 betaal; nou is dit sowat R1 miljoen werd. 

“Een ding van hierdie ou motors is dat hul pryse binne 10 jaar die hoogte in skiet. Hierdie motors se pryse sal nooit daal nie.” Hy skat sy totale versameling is tot R8 miljoen werd. G’n wonder hy het so hard gehelp om die brande te bestry nie . . . 

Kry hy darem kans om in al sy motors te ry? 

“Ons maak ’n punt daarvan om Saterdae van hulle te start en hulle dorp toe en terug te ry, maar dit verg baie moeite. Jy moet petrol ingooi en wiele pomp. Van die staan kry die petrol ’n jellie-agtige tekstuur. Dan moet jy die vergasser skoonmaak en die waterpompe begin ook lek as hulle nie genoeg loop nie.” 

Vir Jopie is hierdie uitstappies soos ’n reis na die verlede.

“Jy beleef ’n tyd wat vergete is. Wanneer jy in die motor klim, die leer ruik en die pragtige afwerkings binne-in sien, en jy skakel hom aan en hy brul sommer so . . . dan dink jy jy is weer in die 1930’s of 1940’s.” 

Van Jopie se motors.
Van Jopie se motors. Foto: Onkgopotse Koloti
Jopie se versamling sluit 30 outydse trekkers in.
Jopie se versamling sluit 30 outydse trekkers in. Foto: Onkgopotse Koloti
Wanneer hy in sy motors ry, beleef hy 'n tyd wat v
Wanneer hy in sy motors ry, beleef hy 'n tyd wat vergete is, vertel Jopie. Foto: Onkgopotse Koloti
'n Volkswagen Karmann Ghia
'n Volkswagen Karmann Ghia. Foto: Onkgopotse Koloti

Sy vrou, Veertjie, het al dekades gelede vrede gemaak daarmee dat sy haar man met sy vloot motors deel. Hul seun, Jopie jr., deel sy passie en huur van die motors uit vir troues en matriekafskeide. Jopie jr. sal dan ook eendag die versameling erf. 

Is daar motors op sy lysie wat hy graag nog by sy versameling wil voeg?

“Sjoe, daar is baie,” antwoord Jopie en sit nadenkend terug.

“Ek sal baie graag ’n mooi Ferrari wil hê. Ook ’n Ford Mustang Coupé en ’n Volkswagen Kombi bakkie . . .”

Dan kry hy lag vir homself.

“Jong, hierdie is ’n soort virus wat jy opdoen. Dis ’n gogga wat jou byt, en hy los jou nie!”

Met ’n bietjie verbeelding lyk dit kompleet asof daai Rolls-Royce met een van sy statige hoofligte vir ons knipoog.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe