Charlene en haar man, prins Albert, se tweeling is reeds bedrywig met hul amptelike pligte. Klein Jacques en Gabriella het onlangs hul ma vergesel toe sy bejaardes by die Hector Otto-stigting besoek.

Charlene het op Facebook en Instagram kiekies van hul uitstappie gedeel.

Charlene het gestraal toe sy opdaag met haar tweeling, word berig. “Hello! Ek is baie bly om vandag hier te wees. Kom ek stel julle voor aan Jacques en Gabriella,” het sy volgens Hello Monaco gesê.

Jacques was glo ietwat aan die skaam kant en het verkies om by die ingang van die eetkamer te wag. Gabriella het egter gestraal van selfvertroue en die kollig gesteel toe sy hand bysit met pligte en saam met haar ma by die 40 inwoners kuier.

Dit was Charlene se derde besoek aan die sentrum. Dis egter die eerste keer dat haar kleingoed by was, vertel die stigting se direkteur, Jérôme Breton.

Toe Charlene se oulike krulkopdogtertjie klaar was met haar amptelike pligte, het sy ewe laat hoor: “Tot siens, almal,” terwyl haar tweelingboetie ’n soentjie geblaas het. Te oulik!

Charlene se aanhangers kon in die sosiale media nie uitgepraat raak oor haar oulike kroos nie. “Gabriella is te oulik,” het een op Instagram laat hoor.

“Ek is mal oor die foto’s van prinses Gabriella! Ons sien te min van haar,” het nog een in dié sosiale netwerk laat hoor. Ander het Charlene geloof omdat sy so omgee vir die bejaardes.

Bronne: Nowtolove.co.au, Instagram, Facebook