Suid-Afrika se gunsteling-Zoeloe-seun, Refentse, se jongste musiekvideo sal jou hart steel en rede gee om verlief te raak. 

Melans Mnel is een van die handjie vol snitte op Refentse se jongste album, Deur My Venster, wat die jong ster self geskryf het. 

“Die album kleur die klanke van Refentse se diep rasperstem verder in met ’n sterk en ritmiese, rockakoestiese ondertoon, afgewissel met rustiger ballades en, natuurlik, ’n lekker proetjie Boeremusiek,” sê Tania Fourie van Select musiek oor die album.  

Ander snitte uit Refentse se pen sluit liedjies soos die speelse Anoret en Vuil Vanderbijl, rustige nommers en ballades soos Sal Jy, sowel as meevoerende walse soos Jané vir My in. 

 “Skeppings uit Refentse se eie pen toon musiek en skryf is deel van dié jong sangsensasie se DNS. Dié album is een met ’n ryke en diverse identiteit: passievol, sosiaal, voetstamp-lekker, tong in die kies, eerlik, poëties, aangrypend,” sê Tania.