Die Carolina Reaper, wat met die amptelike rekord vir die wêreld se branderigste rissie spog, het al opgeduik in alles van hamburgers en pizza tot mielieskyfies – wat weer tot 'n "One Chip Challenge" op meer as een TV-stasie gelei het. Dit was dus seker net 'n kwessie van tyd voordat 'n Aussie besluit om sjokolade met 'n verskil te skep.

'n Paar vlokkies brandrissie om baie mense se gunstelinglekkergoed mee op te kikker, is natuurlik niks nuuts nie. Maar John Kapos, 'n sjokolademaker van Sydney en alombekend as Chocolate Johnny, se jongste skepping skop blykbaar soos 'n span muile.

Die eienaar van Perfection Chocolates in Rose Bay maak nou daarop aanspraak dat hy danksy die gevreesde Reaper die wêreld se "warmste sjokolade" kon optower. Hy het aan die Australiese TV-netwerk 9News vertel hy het juis die blink gedagte gekry nadat 'n groothandelaar-vriend hom spesiale mielieskyfies met dié rissie laat proe het ("dit was net pyn en trane").

John het darem 'n video waarin hy self sy interessante nuwe sjokolade eet op Facebook geplaas en waarsku eers alle kopers daarvan hulle speel met vuur: "Ek sal iedereen wat dit probeer, vertel hierdie is die branderigste sjokolade wat hulle ooit sal eet. Hulle moet baie versigtig wees en weet hulle doen dit op eie risiko."

John Kapos/Facebook


Die Carolina Reaper, wat gemiddeld bykans 1,6 miljoen Scoville-hitte-eenhede op die brandrissieskaal haal - vergeleke met byvoorbeeld 'n jalapeno-rissie se 2 500 tot 8 000 eenhede - is die monsterkind van Ed Currie van die Pucker Butt Pepper Company in Suid-Carolina in die VSA.

Hy het dit oor 'n tydperk van tien jaar ontwikkel en dit self al as "stupid hot" beskryf. 

Guinness World Records het dit as die skerpste rissie op aarde aangewys. Ed het destyds rissies begin kweek toe hy hoor die capsaïsien-stof daarin het moontlik die potensiaal om in middels teen kanker gebruik te word. Hy skenk juis vandag die helfte van sy oesopbrengste vir kankernavorsing.

Die Britse mediese joernaal BMJ het in April vanjaar 'n gevallestudie oor die Reaper se uitwerking gepubliseer wat toe wyd in die buitelandse media aandag getrek het: 'n 34-jarige man in die staat New York is in 'n hospitaal opgeneem met 'n toestand bekend as omkeerbare serebrale vaatvernouing-sindroom, oftewel "donderslag-hoofpyne", nadat hy slegs een Reaper in 'n kompetisie verorber het.

Die vernaamste simptome is ondraaglike hoof- en ook ernstige nekpyn.

Intussen reken Ed hy het al weer 'n nuwe rissie ontwikkel wat amper twee keer so branderig soos die Reaper is. Maar dis nog nie amptelik bevestig nie; hy skaaf blykbaar nog 'n bietjie aan dié "Pepper X".

Bronne: 9news.com.au, puckerbuttpeppercompany.com, BBC, YouTube, Facebook