Peyo was oorspronklik ’n skouperd in Frankryk se Dijon-streek, maar sy afrigter, Hassen Bouchakour, het mettertyd besef hy is stellig vir iets groter bestem.

Ná vertonings het die nou 15-jarige hings dikwels enkele individue uit die skare by ’n byeenkoms gekies, op hulle afgepyl en by hulle gebly.

En so kom Hassen toe naderhand agter sy perd kies instinktief die kwesbaarste mense, mense wat fisiek of geestelik siek was.

Dit het hom so aangegryp dat hy besluit het dis tyd vir ’n nuwe roeping vir hom en sy perd; dat hulle Peyo se spesiale gawe ten volle inspan om diegene te help vir wie dit die meeste kon beteken. 

View this post on Instagram

A post shared by Hassen B. Les Sabots du Coeur (@docteur_peyo)

Vandag werk hulle saam met ’n terapiegroep genaamd Les Sabots du Coeur (“Die hoewe van die hart”) en ook saam met wetenskaplikes wat Peyo se besonderse vermoë bestudeer om siekes se behoeftes aan te voel en dan hul angs, neerslagtigheid en pyn te verlig.

Die tweetal het sowat vier jaar gelede byna daagliks pasiënte by die Calais-hospitaal se palliatiewe sorgeenheid begin besoek. Interessant genoeg sê die perd aan sy baas watter pasiënte veral op ’n bepaalde dag aandag nodig het deur by hul hospitaalkamerdeur te gaan staan en sy een been vorentoe uit te strek.

“Wanneer Peyo hieroor besluit, is ek nie regtig meer in beheer nie. Ek kan hom nie terughou nie, hy wil by die spesifieke persoon wees,” het Hassen al verduidelik.

Hospitale moet ’n steriele omgewing wees, maar die duo het ook hieroor ’n goeie verstandhouding met dokters en verpleegsters. Hassen sal tot twee uur daaraan bestee om Peyo besoekgereed te kry – en dié geniet blykbaar die sanitasieproses.

En wanneer die natuur roep terwyl hy met sy hospitaalrondes besig is, sal hy sy baas ook waarsku hy moet buitentoe gaan deur ’n teken wat hy aangeleer het: hy sal van links na regs trap.

Brokkies en foto’s van Peyo se aandoenlike oomblikke saam met pasiënte van alle ouderdomme – onder meer via Hassen se Instagram-blad @docteur_peyo – het wyd die hartsnare geroer: Soos Peyo wat sy neus sagkens teenaan Marion, ’n jong ma met kanker, en haar sewejarige seun by haar druk. En hoe hy die gesig van ’n brose, bejaarde pasiënt laat ophelder.

Of hoe hy die hand lek van die 64-jarige Roger ná dié se bloedoortapping. Peyo is sy “gunstelingdokter” en hy slaap altyd goed nadat hy hom gesien het, het Roger se vrou vertel.

En daar was ook Peyo se ou vriend Daniel (67), ’n voormalige ruiter.

Wanneer hulle oor Peyo gepraat het, “het hy sterre in sy oë gekry en begin huil”, het sy geliefdes vertel. Daniel het uiteindelik sy stryd teen kanker verloor. By sy begrafnis het Peyo en Hassen op sy en sy familie se versoek langs sy kis gestap om vaarwel te sê.

Kenners vermoed ná heelwat navorsing dat Peyo, wat af en toe ook beskermend in ’n pasiënt se kamerdeur sal gaan staan en mense keer wat daar wil in, se brein op ’n taamlik unieke manier funksioneer. En oor een ding is hulle reeds seker: “Dokter Peyo” bring groot verligting vir die mense oor wie hy hom so ontferm.

“Wat wetenskaplikes se belangstelling prikkel en hospitaaldeure vir ons laat oopgaan, is sy vermoë om pasiënte se behoefte aan sterk pynmedikasie grootliks te verminder en vir hulle ’n vreedsamer heengaan te help verseker,” sê Hassen.

Bronne: Instagram.comlessabotsducoeur.org, rfdtv.cominspiremore.com, theguardian.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe