Dít was die ontstoke Tour de France-organiseerders se boodskap aan aanhangers terwyl polisie die vrou soek wat Saterdag 'n hele peloton ryers met haar onbesonne toertjie teer laat tref het.

Franse wetstoepassers het teen Maandagmiddag nog gesoek na die toeskouer wat Saterdag tydens die eerste skof van die Tour 'n lelike massabotsing tussen jaers veroorsaak het.

Sy het met 'n groot plakkaat met 'n boodskap aan haar grootouers in die pad van die Duitse held Tony Martin beland en hom van balans af gestamp, waarna die soort kettingbotsing gevolg het wat geen deelnemer, organiseerder of fietsrygeesdriftige wil sien nie.

Sy het duidelik, met haar rug merendeels na die jaers gedraai en haar kartonboodskap voor haar uitgestrek, vir 'n TV-kamera geglimlag.

Die polisie het gesê hulle wou 'n klag van “onbedoelde besering deur 'n doelbewuste oortreding van veiligheidsmaatreëls” teen die sondaar lê.

En die Tour se organiseerders is vasbeslote om regstappe te neem teen die vrou, wat van die ongelukstoneel af weggevlug het.

YouTube
YouTube

“Ons doen dit sodat die klein minderheid mense wat hierdie dinge aanvang nie die skouspel vir almal bederf nie,” sê hulle in 'n verklaring.

“Ons is bly om die publiek langs die pad te hê, maar vir die Tour om 'n sukses te wees, moet die veiligheid van die ryers gerespekteer word. Moenie alles waag vir 'n foto of om op TV te probeer kom nie!”

Die Britse Olimpiese fietsry- en Tour-held Bradley Wiggins het intussen gal gebraak toe hy die insident, wat onder andere sy landgenoot en viermalige Tour-wenner Chris Froome hospitaal toe gestuur het, in sy aanlyn geselsprogram vir Eurosport bespreek het:

“Dit was gruwelik om te sien. Sy het ‘moord’ by die Tour gepleeg. Mense het heeljaar, boonop 'n moeilike jaar, hiervoor geoefen. Baie is op die spel, ook hul inkomstes.

"As mense hierdie soort ding elders langs 'n openbare pad gaan doen en 'n fietsryer tref die teer, sal hulle in die tronk gesmyt word."

"Hierdie is nie 'n kans om op TV te kom en 'n boodskap te wys wat jy op 'n bleddie boks geskryf het nie. Toeskouers is deel van die resies, maar hierdie soort goed gebeur al jare.”

Tony Martin was darem ietwat kalmer oor die hele affêre: “Ek het die vrou en haar plakkaat gesien, maar sy het op die laaste oomblik in die pad gekom, so daar was geen tyd vir my om te reageer nie. Ek kan steeds nie verstaan hoe mense sulke goed kan doen nie. Ons is hier om resies te jaag. Hierdie is nie 'n sirkus nie.”

Bronne: eurosport.com, letour.fr, YouTube, cyclingnews.com

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe