Sy het al vroegoggend gebid dat die Bokke daardie goue beker sou huis toe bring, sê ouma Emmie van Bela-Bela in Limpopo – en sy kon ná die Bokke se sege wéér nie die trane van blydskap keer nie.

Die kostelike ouma Emmie Booysens (88) – die kranige Springbok-ondersteuner wie se video harte vermurwe het toe sy ná die Bokke se sege teen Wallis snikkend begin huil het – sê sy het nie ’n oomblik lank getwyfel dat haar manne, soos sy die Springbok-span noem, die beker sou huis toe bring nie.

“Man, dalk was ek effentjies skrikkerig . . . Jy weet, net so bietjie. Ek het vir ’n oomblik lank nadat ek gebid het besef dat die ander land seker ook vir hulle span bid. Maar ek het net geweet die beker is ons s’n – ek kon dit net voel,” vertel sy uit die ouetehuis waar sy woon.

Lynelle Labuschagne (28), ouma Emmie se kleindogter, het haar Saterdag soos baie keer tevore weer by die ouetehuis gaan oplaai sodat hulle saam die rugbywedstryd by Lynelle se huis in dié dorp kon geniet.

Die twee is al vroeg op, vertel ouma Emmie. “Ons het sommer die dag afgeskop met die liedjie ‘Hier kom die Bokke!’ Man, dis so lekker liedjie – en dit het ons net in die regte stemming gekry,” vertel sy laggend.

Toe kom die Bokke – en hulle stel nie teleur nie.

En weer is ouma Emmie se reaksie op die Bokke se spel so kostelik soos voorheen: Dis ses minute voor die eindfluitjie blaas. Op die televisie is die eindstryd in sy doodsnikke – en Suid-Afrika loop ver voor. In die skare hou meeste nog asems op. Maar nie Ouma Emmie nie: Sy leun terug in haar stoel; vou haar hande saam en sê dan deur die lag en trane: “Ag, ons kan nie meer verloor nie . . .” 

En sy was heeltemal reg. “O, jinne, my kind. Ek het myself so uitgeleef. Nou moet jy weet: Ek kyk net vir die lekker. Ek sien nie eers die glipsies raak nie. As hulle so aangee . . . joeg, dis lekker.”

Sy’s die Bokke se grootste ondersteuner, sê ouma Emmie, al het sy nog nooit ’n Springbok-wedstryd in lewende lywe gesien nie. Sy het selfs ’n gunstelingspeler: Tendai ‘Beast’ Mtawarira – want “hy’t maar net ’n sagte plekkie in my hart”.

En die lekkerste? “Wanneer jy in een stadium besef daar is niks meer wat die ander span kan doen om daardie beker van ons te roof nie – dis die lekkerste gevoel. Dit was so wonderlike oomblik, en dit het my weer ’n keer oorweldig met emosie. Dit was vir my so mooi om te sien hoe almal saam juig; skree en fees vier. Dit maak my hart warm.” 

Aan Huisgenoot sê Lynelle: “Ons moes ouma weer afneem omdat sy net so ongelooflik dierbaar is. Sy sê heeltyd: ‘Ek gaan nie huil nie; ek gaan nie huil nie . . .’ En toe huil sy – onophoudelik. Dis vir ons lekker om te sien hoeveel sy dit geniet.”

Tannie Emmie is ’n weduwee met twee dogters, vyf kleinkinders en twee agterkleinkinders.