KYK: Partytjie in Mbombela ter nagedagtenis van Baba MJ gehou

akkreditasie
Dit sou haar lieflingseuntjie se eerste verjaardag wees, maar om hom te eer, het sy ma ’n verjaardagpartytjie vir minderbevoorregte kinders in Mbombela gehou.
baba mj
’n Verjaardagpartytjie is Donderdag ter nagedagtenis van Baba MJ gehou. Foto: Verskaf

Adri Erasmus, Baba MJ Erasmus se ma, het aan Huisgenoot vertel MJ sou op 2 September een jaar oud geword het.

MJ is op 15 Mei 2021 oorlede nadat hy maande lank dapper geveg het. 

Hy is met klompvoetjies gebore, maar die dokters het later vasgestel dat hy sonder die corpus callosum, die skakel tussen die regter- en linkerbrein, gebore is, terwyl hy ook nie die CLCN4-geen ontwikkel het nie. Dié geen is belangrik vir die mutasie van ’n baba se breinontwikkeling. 

baba mj
MJ sou sy eerste verjaardag op 2 September 2021 gevier het. Foto: Verskaf

Adri en haar man, Marius, het dus hierdie jaar besluit om wel ’n verjaardagpartytjie vir MJ te hou en het saam met die hulp van Pediatric Care Africa ’n partytjie in die informele nedersetting Katoen in Mbombela gehou. 

“Ons wou teruggee aan die gemeenskap omdat hulle ons so baie gehelp het. Ons het ’n partytjie gehou soos wat ons vir MJ sou gehou het.”

baba mj
Daar was ook koek vir die kinders in Katoen. Foto: Verskaf

Adri vertel die feestelikhede het van 12:00 tot 16:00 geduur, terwyl hulle ook sakkies opgemaak het om in die gemeenskap uit te deel.

“Daar was koek, oliebolle, ballonne en selfs ’n nar. Ons het badkamersakkies, lekkergoedsakkies en speelgoed uitgedeel.”

Adri sê hulle het onder meer tandeborsels, tandepasta, sjampoe en kamme aan die gemeenskap uitgedeel.

baba mj
Adri en haar man, Marius, het lekker saam met die mense in Katoen partytjie gehou. Foto: Verskaf

Die geleentheid self het gemengde gevoelens vir haar gebring.

Sy was bly om partytjie te kon hou, maar ook hartseer omdat MJ nie daar kon wees nie. 

baba mj
Hulle het pakkies opgemaak en dit saamgeneem vir die viering. Foto: Verskaf

Maar Adri en Marius is vasbeslote om hierdie partytjie ’n jaarlikse instelling te maak.

“Ons wil dit elke jaar op MJ se verjaardag doen. Ons wil teruggee aan die gemeenskap, want dit is wat MJ sou wou gehad het.”

adri
Adri hou Baba MJ vas. Foto: Verskaf

Adri sê hulle wil veral siek kinders help omdat hul eie kind siek was. 

Hulle wil jaarliks, met hulp van Pediatric Care Africa, ’n gemeenskap identifiseer wat hulp nodig het en dan MJ se verjaardag in dié gemeenskap gaan vier. 

Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees