Dit was die uitdaging wat 'n paartjie van Bogota in die Amerikaanse deelstaat New Jersey Saterdag die hoof moes bied. Hulle en hul trougaste het 'n liederlike ding oorgekom toe hulle deur vloedwater vasgekeer is nadat daar byna 3 cm water in minder as 'n uur geval het. Hoe nou gemaak?

Maar daar was gelukkig hope geluk by die ongeluk . . .

Die troukar het 'n sondak gehad en van Bogota-polisiediens se flinke manne in blou kon met 'n Hummer en flitsende ligte tot hul redding kom.

Eers raak een van die twee polisiemanne ontslae van sy vuurwapens, dan klim hy soos 'n ware ridder van ouds op die monstertrok se bak. Hy gee 'n versigtige tree tot op die bruidsmotor se deur tot waar hy stabiel genoeg tussen die twee voertuie voel voor hy sy hand na die bruid uitsteek.

Eers gee sy haar handsakkie, dan wat lyk na haar skoene aan die held in blou wat dit betreklik onseremonieel op die Hummer se bak neergooi. Dan vat die bruid die tientalle valle van haar trourok stewig bymekaar, gryp haar redder se hand en gee een reuse tree van die bruidsmotor tot op die Hummer se bak.


Terwyl sy ewe grasieus gaan sit, help dieselfde galante heer ook haar "nuwe" man, alte deftig in sy troupak uitgevat, ook uit die motor. Toe volg die bruidsmeisies . . .

'n Rowwe noot

"Ongelukkig het die bruid, haar nuwe man en hul trougeselskap se dag op 'n rowwe noot afgeskop. Gelukkig was ons daar om hulle deur hul eerste moeilike tydjie te help. Duidelik het die dag nie soos beplan verloop nie. Maar kom ons wens hulle geluk met hul troue en wens hulle die beste vir 'n leeftyd van liefde en avontuur toe. En dit begin nou!" was die Bogota-polisiedepartement se boodskap op hul Facebook-blad.

Natuurlik word die manne in blou wyd geloof vir hul optrede, veral omdat die bruid se skoene ook gered is. By die plasing op hul blad skryf ene Kelly Elizabeth die bruid is steeds pragtig.

"Selfs die toejuiging vir die pragtige terwyl bruid sy gered word, en haar nuwe man se glimlag, wys hoe hulle die toekoms tegemoet gaan."

En die wenner-reaksie uit die polisiediens se stal: " 'n Prinses behou altyd haar kalmte."

O ja, praat van water. Die paartjie beoog glo 'n bootvaart vir hul wittebrood . . .

Nóg 'n sopnat bruid

Geen reënbui of vloed het verhoed at Jobel (24) en Jefferson Delos Angeles, die pa van hul twee kinders, in Hagonoy in die Filippyne hul troubeloftes aan mekaar kon aflê nie.

Terwyl Jobel in haar wit trourok gestraal het, het Jefferson sommer net plakkies by sy deftige pak gedra. Van die gaste het ook summier hul skoene uitgetrek.

"Ongeag reën of vloede, niks sal my keer nie. Jy trou net een keer, sal jy dit dan wil uitstel? Ek het met die man getrou vir wie ek lief is," het Jobel gesê oor die man met wie sy al die afgelope vyf jaar uitgaan.

"My trourok het nat geword en dit was ook baie swaar, maar ek het myself wysgemaak ek loop op 'n rooi tapyt.

"Dit is werklik onvergeetlik. Ek is só gelukkig. Dit leer ons daardie les dat daar geen 'wat as' in die lewe is nie."

Bronne: thedailystar.net, nbclosangeles.com, pitsburgh.cbs.local.com