So ’n uitstalling het die Pretoria-kunsmuseum waarskynlik nog nie beleef nie.

Al 237 portrette wat hier hang, is van een en dieselfde mens. En hy is nie eens beroemd nie.

Dis ook nie iemand wat verlief is op homself nie, al beskuldig sommige mense hom daarvan.

Stuart Trent (48) is ’n gewone galeryeienaar met ’n ongewone stokperdjie – om homself te laat skilder.

Nege jaar lank versamel die eienaar van die Trent-galery in Pretoria al selfportrette tot waar dit nou by die punt gekom het dat dit in die kunsmuseum onder die naam Me, Myself and I uitgestal word.

’n Portret deur Esther Mahlangu. Foto: Martin de Kock.

“Elkeen van dié portrette is ’n stuk van my; van my menswees. Maar dit is ook die kunstenaar se persepsie van my,” sê Stuart.

Loop ’n mens verby die bleekwit mure waar die kunswerke hang, besef jy elkeen verklap iets anders omtrent Stuart.

In een word Stuart as ’n kat voorgestel, want hy en sy vrou, Wendy, het ’n liefde vir katte.

Hulle sien gereeld oor naweke na straatkatte om en neem hulle om gesteriliseer te word.

’n Soplepel is teen die muur vasgespyker. Kyk jy in sy boepens, sien jy Stuart se gesig. Hy sê hy geniet nogal sy sop.

Daar is ook werke van hom as kind waar hy in die Karoo saam met sy pa by ’n plaasdam baljaar.

Stuart gaan staan by ’n groot portret deur die kunstenaar Annette Pretorius. Die man in die raam kyk uitdrukkingloos voor hom uit, maar die groen oë is presies dié van die man wat by ons staan.

Van die portrette wat Stuart besit. Foto: Martin de Kock.

Dit is asof die mens in die kunswerke lewend word wanneer jy so saam met Stuart stap deur die eiesoortige tempel gewy aan homself.

Stuart se obsessie het in 2009 vlam gevat toe hy die Nasionale Portretgalery in Londen besoek.

“Daar was ’n uitstalling deur die Vlaamse kunstenaar Francis Alÿs. Hy het oor meer as ’n dekade replikas van ’n skildery van Sint Fabiola deur die Franse kunstenaar Jean-Jacques Henner versamel.”

Sint Fabiola was ’n edelvrou wat alle aardse plesiere afgelê het ter wille van goeie dade.

Die beroemde oorspronklike skildery, wat Henner in 1885 geskep het, het in 1912 weggeraak, maar dit is deur talle kunstenaars nageboots en vir aanbiddingsdoeleindes gebruik.

“Alÿs het baie van die replikas by vlooimarkte en kunsgalerye gekoop,” verduidelik Stuart.

Dié portrette is toe in twee vertrekke, van vloer tot plafon, van die Portretgalery gehang, waar Stuart dit besigtig het. “Dit het ’n groot en blywende indruk by my gewek.”

Een van die kunswerke wat in Pretoria hang, is juis ’n interpretasie van dié einste werk. Maar pleks van Sint Fabiola wat in ’n rooi kleed staan, is dit Stuart wat in die kunswerk pronk.

Die Fabiola-portret is in 2013 deur Nhlanhla Nhlapo voltooi.

Die portret deur Nhlanhla Nhlapo. Foto: Martin de Kock.

Die eerste portret in die versameling was Diane Victor se Indestructible. Die versameling het nie onbeplan een daar en een hier begin nie.

Hy het van Londen af teruggekom met die doel om so iets aan te pak.

Die eerste 41 werke was reeds in 2013 voltooi en hy het ’n koffietafelboek daarmee uitgereik.

Nie sommer enigiemand kan ’n portret van hom skilder nie – hy moet jou vra om dit te doen.

“Ek ken al die kunstenaars persoonlik. Ek moet eers ’n koffie saam met jou gedrink het voor ek jou vra om ’n portret van my te maak.”

Hy wil hê die kunstenaar moet hom leer ken. Sommige van die kunstenaars is kunsstudente wat al by sy galery uitgestal het; ander is weer kliënte wat hul werke by hom kom raam het.

Groot name is ingesluit, soos die gevierde kunstenaars Diane Victor en Norman Catherine.

’n Portret deur Norman Catherine. Foto: Martin de Kock.

Die komediant Casper de Vries het hom ook geskilder. “Hy kom gereeld na my galery om te kuier of raamwerk te laat doen, toe vra ek hom om ’n portret van my te maak.”

Stuart sê hy betaal nie noodwendig vir die kunswerke nie en sal dikwels ’n ooreenkoms met kunstenaars aangaan sodat hulle op krediet raamwerk by hom kan kom doen.

Hy is nie seker hoeveel hierdie versameling van hom werd is nie, erken hy.

“Party van die werke is deur onbekende kunstenaars gedoen en niemand wil noodwendig ’n kunswerk van my gesig hê nie.”

Dan waag hy ’n raaiskoot: “Ek skat die versameling is so R700 000 werd.”

Tog is die werke nie te koop nie.

“My vrou spot my gereeld en sê die versameling van my is net een groot ego trip,” sê hy laggend.

’n Portret deur Casper de Vries. Foto: Martin de Kock.

Wat sal hy dan vir mense sê wat hom ’n narsis noem? “

Een van my gunstelingkunstenaars het altyd gesê alles wat jy doen, is ’n portret van jouself.”

Hy verwys hiermee na die plaaslike kunstenaar Dorothy Kay, wat in 1964 oorlede is.

Dan vervolg hy: “Ek sien nie myself wanneer ek na dié portrette kyk nie. Ek sien die kunstenaars. Ek sien hoe hulle die lewe interpreteer. Hoe elkeen van hulle dieselfde onderwerp vertolk.”

Stuart erken sy vriende en familie het sy stokperdjie aan die begin vreemd gevind.

“Ek dink hulle het so ’n bietjie gedink ek probeer my ego streel, maar baie begin nou snap wat ek hier probeer doen. Ek wou ’n soortgelyke uitstalling aanbied as die een wat ek in Londen gesien het en terselfdertyd plaaslike kunstenaars steun.”

Dit moet ’n kykie gee in Stuart se eie persepsie van kuns asook hoe ander kunstenaars een onderwerp verskillend kan interpreteer.

Al die kunswerke is uiteenlopend, hetsy die styl, kleur of medium.

Foto: Martin de Kock.

In een geval het die kunstenaar ’n klein portret van hom gemaak en dit toe met ’n klapper opgeblaas – net stukkies papier het oorgebly.

In die portret is ’n gat waar sy gesig was. As jy die papier weer teen mekaar druk, sal jy steeds sy gesig sien.

’n Ander een het uit brons ’n skedel van Stuart gemaak en dit “Yarmulke” (die Joodse skedelmus) gedoop.

Op die bronsskedel het die kunstenaar ’n soort kadotjie aangebring om die onderwerp se ylwordende hare weg te steek.

’n Bejaarde paartjie stap teen ’n slakkepas verby die gesigte van Stuart. “Is jy die onderwerp hier?” vra die vrou met ’n breë glimlag vir hom.

Dit is asof sy pas ’n rooi roos van Bles Bridges ontvang het; haar oë is pure sterretjies.

Stuart glimlag verleë en knik. Hy stap saam met hulle verder terwyl hy van elke portret se betekenis vertel en van die kunstenaar wat dit geskep het.

Hy wys vir hulle ’n portret in die styl van Pierneef se werk waarop hy in ’n Superman-gewaad staan.

“Dis deur ’n tannie wat gereeld haar werk by my laat raam. Sy sê ek is vir haar soos ’n Superman, en toe besluit sy om my so voor te stel,” vertel hy.

Dan is daar die houtmasker met vyf uitlaatkleppe wat soos fluite lyk.

’n Houtmasker wat een van die kunstenaars vir Stuart gemaak het. Foto: Martin de Kock.

“Die kunstenaar sê ek probeer altyd vyf verskillende gesprekke op een slag voer, toe ontwerp hy dié masker om daardie eienskap van my voor te stel.”

Die paartjie met wie hy gesels, is deur die werk meegevoer. Die man haal ’n pen uit sy bosak en vra sy vrou om in haar handsak te krap vir papier.

Blitsig en met presiesheid begin hy ook ’n kunswerk teken. Die onderwerp is eenvoudig; hy staan mos reg voor hom.

Net daar kom Stuart op die vel papier tot stand met sy kop effens buite proporsie, amper soos ’n spotprentkunstenaar sou teken.

Nou het Stuart 238 kunswerke van homself. Hy skud die man se hand.

Oor ’n maand word al die kunswerke van die mure afgehaal wanneer die uitstalling hier in die Pretoria-kunsmuseum tot ’n einde kom.

En nee, hy gaan dit nie dan in sy eie galery of huis ophang nie.

“Ek het nêrens plek om dit op te hang nie,” sê hy.

“Dit sal alles weggepak word tot volgende keer.”