Hoe op dees aarde kry jy al daardie hare netjies in ’n vlegsel vasgekam? En is dit moontlik om gewone skooldinge soos atletiek en netbal te doen as jou hare langer as jou arms is? Ja, sommer maklik, eintlik. Trouens, dis glad nie ’n gesukkel nie.

Kylie Klaasen
‘Toe ek klein was het ek ook baie van die storie oor Raponsie gehou’ Foto: Dewald Klaasen

Nie as jy Suid-Afrika se eie Raponsie is nie. Met die eerste oogopslag lyk die 12-jarige Kylie Klaasen van Port Elizabeth soos enige skoolmeisie, maar dit is met die omdraai dat dit jou asem wegslaan. Want dan sien jy dat haar hare soos ’n sagte satynkombers oor haar rug swiep en byna tot by haar knieë strek.

Haar blonde lokke is byna 1 meter lank – 93 cm om presies te wees. En dit teenoor haar eie lengte van 1,56 m. Wanneer jy haar oor die glansende haregolf komplimenteer, glimlag sy net skaam, maar vra haar om te wys hoe lank dit is en sy spring vinnig op en tol in die rondte.

“Dit is nou so vyf sentimeter bo die waai van haar knie,” sê haar pa, Dewald Klaasen (47), trots. “Dit het so ’n effense kartel wanneer dit droog is, maar as dit nat is, hang dit tot by die waai.”

Toe ma Karin (49) onlangs in Huisgenoot lees van die Brit Malgorzata Kulczyk (34) wat Londenaars met haar 1,5 m lange hare betower, het sy besluit sy moet Kylie se storie ook deel, “veral omdat sy so jonk is en die bos hare haar nie terughou nie,” verduidelik sy.

“Sy bereik alles wat sy wil.” Haar lang lokke verhinder haar allermins om rats en aktief te wees. Kylie blink uit in hoogspring en het die afgelope drie jaar Oos-Kaapse provinsiale kleure daarin verwerf.

Kylie Klaasen op die atletiekbaan
Kylie Klaasen is ’n kranige atleet en sorg dat haar lang hare haar nie terughou nie. Foto: Dewald Klaasen
Kylie Klaasen op die atletiekbaan
Foto: Dewald Klaasen

Die talentvolle jong sportvrou ding ook mee in spiesgooi, verspring, gewigstoot en naellope – én sy speel netbal. Daarby neem sy deel aan landloop, swem, tweekamp, fietsry en tennis. Maar hoe gemaak met haar hare wanneer sy oor die dwarslat van die hoogspringpale moet seil?

“Wanneer ek hoogspring, druk ek my vlegsel by my hemp in. Wanneer ek atletiek doen, vleg ek my hare, anders kan dit tussen my arms beland. En met swem het ek ’n spesiale swemkappie vir lang hare,” vertel sy.

“Ons maak altyd ’n plan.” VOL selfvertroue sit Kylie voor die skerm terwyl sy via ’n video-oproep vanuit haar ouerhuis met Huisgenoot gesels.

Die Laerskool Lorraine, waar sy vanjaar in gr. 6 is, roteer weens die covid-19-pandemie die dae waarop die verskillende grade skoolgaan, en vandag is sy tuis. Sy vertel sy laat haar hare al van haar babadae af groei.

Sy het nog nooit in haar lewe ’n behoorlike haarsny gehad nie. Wanneer haar ma elke drie tot ses maande die punte wil sny, gee sy teësinnig toe.

“Sy wil nooit nie en ek mag net bitter min afsny,” vertel Karin en wys so halwe sentimeter tussen haar duim en wysvinger. “Ek kyk maar wanneer die punte droog is, maar wanneer ek aan die skêr raak, hardloop sy.”

Kylie Klaasen
Kylie en haar ouer suster, Dané. Sy het net sulke lang hare gehad wat sy afgeknip het omdat dit haar begin hinder het wanneer sy dans. Die twee susters doen graag hip-hop saam en vermaak die gesin gereeld. Foto: Dewald Klaasen

Pa Dewald, ’n oudpolisieman en nou eienaar van ’n klerefabriek, is trots op sy Kylie se haredos.

“Sy kan nie sien wat agter aangaan nie, so ek staan agter by. Ek moet haar beskerm teen die grootmense,” spot hy. Kylie se ousus, Dané (15), het eens met net sulke lang hare gespog.

Toe sy dit as 12-jarige laat sny het, was dit ’n bitter moeilike dag vir haar pa. “Ek het amper gehuil,” erken Dewald. “Maar sy wóú dit sny; Kylie wil nie. Ek dink dit maak haar uniek en ek weet dit is haar trots.”

Dané se indrukwekkende bos hare was ’n groot rede vir Kylie se besluit om haar hare te laat groei en groei en groei. “Dit het tot onder haar boude gehang, maar sy het dit toe in lae geknip omdat dit te swaar geraak het vir hip-hop,” verduidelik sy.

“Sjampoe is nogal ’n ding in ons huis,” sê die ma van die Baai se eie Raponsie – hoeka een van Kylie se gunsteling-sprokieskarakters toe sy klein was.

Die gesin gebruik almal dieselfde sjampoe en speel elke maand met twee tot drie liter daarvan klaar. Kylie was haar hare een keer per week.

Sy moet die spuitknoppie 10 keer druk om genoeg sjampoe uit die bottel te kry. Ná die was, gooi sy die hare vorentoe, kam dit saggies uit en blaas dit droog.

“Dit word baie gou droog,” vertel sy. Dié ritueel pak sy al vandat sy ses was self aan. Haar hare koek nie maklik nie, maar wanneer dit wel gebeur, sit haar ma hand by om dit uit te kam, want dis moeilik om self oral uit te kom.

Voor slaaptyd maak sy haar hare in ’n poniestert vas of sy gooi dit losweg oor haar kussing wanneer sy in die bed klim. Sy pas haar haarstyl aan by die geleentheid of die aktiwiteit wat sy aanpak, sê Kylie.

Afgesien van haar prestasies op die sportveld, het sy al twee keer as model deelgeneem aan die Talent Afrika-kompetisie en verlede jaar ’n goue toekenning gekry.

Vanjaar was sy onder die topdrie- redenaars in die Oos-Kaap in die nasionale redenaarskompetisie en het erekleure in akademie verwerf. Waar sy ook al gaan, laat haar lang hare die koppe draai.

“Ons was eenkeer in ’n restaurant toe twee meisies skelm ’n foto van my hare geneem het. Ek het nie omgegee nie, want ek dink hulle wou dit dalk maar net vir iemand wys,” vertel sy.

Wat is haar raad aan ander meisies en vroue wat ook so ’n lang bos hare wil hê? “Soms kan jy moeg raak vir jou hare, maar moet dit nie knip nie, want jy gaan spyt wees,” sê sy. “Wees geduldig, dit sal mooi uitgroei.”

Kylie Klaasen by haar gesin
Die Klaasen-dogters, Kylie (regs) en haar suster, Dané (links) saam met hul ouers, Dewald en Karin. Foto: Dewald Klaasen

Al dwing haar hare soveel bewondering af, lok dit ook soms kritiek uit. “Ek word soms geboelie,” sê Kylie.

“Meestal as ons by die skool in die ry staan en my hare agter oor my rugsak val, sal iemand dit vorentoe gooi. As ek vra hoekom hulle dit doen, sal hulle sê dit pla hulle, hoekom knip ek dit nie. Ek sê dan vir hulle ek gaan nie, want dit is mý hare.

“Dit het ook al gebeur dat iemand ’n meter van my af sit en vra hoekom knip ek dit nie. Ek sê dan vir hulle hulle moet my uitlos, want dit is mý lyf.”

Op ’n dag het sy moeg geraak vir die snedige aanmerkings oor haar hare op TikTok en op haar WhatsApp-status teruggekap: “Julle kan vir my sê om my hare te knip. Maar Jesus het alles besluit, gekies en gemaak. Hy het besluit om ’n meisie met lang hare te maak. As julle sê ek moet my hare knip, dan kritiseer julle God se werk.” Kan sy haar haarself ooit met kort hare voorstel?

“Ek het al daaraan gedink en gewonder hoe ek sal lyk en my hare opgevat. Ek het dit al in die klas gedoen; toe sê almal dit lyk beter, ek moet my hare eerder so dra.” Maar sy skud haar blondekop beslis. “Ek gaan nie.”

Haar ouers is “supertrots” op hul moedige, vasberade dogter. “Sy laat nie toe dat goed haar onderkry nie, al kry sy soms swaar,” sê Dewald, duidelik trots op meer as net sy dogter se lang lokke.

“Sy gee nie in as gevolg van die druk nie, en sy staan sterk in wat sy glo.”