Die video, wat op die Toronto-dieretuin se Facebook-blad gedeel is, is reeds byna 400 000 keer gekyk. Hy was net vier dae oud toe dié stortsessie hom beroemd maak. Dit was sy eerste “bad”.

Die oulike rakkertjie, lid van die groter eenhoring-renostergroep (rhinoceros unicornis) wat ook die Indiese renoster genoem word, is op 4 Januarie gebore. Sy ma was ’n allemintige 16 maande swanger. Die kalfie sal eersdaags 'n naam kry.

Hy is die eerste nuweling wat vanjaar sy verskyning gemaak het in die Toronto-dieretuin in Kanada. Kyk net hoe vasbeslote is hy om sy dors te les, en mamma Ashakiran (13) moet maar ewe gedwee opstaan daarvoor.

Dit is haar tweede kalfie. In Februarie 2016 het haar eersteling sy opwagting gemaak, ook ’n bulletjie. Die publiek is gevra om te help dink aan ’n naam en eindelik is op Nandu besluit. Nandu beteken “die een wat vrolik en gelukkig is”.

Terloops, die rakker weeg reeds 100,1 kg! Nie sleg vir 'n "baba" van 20 dae oud nie.

'n Suksesverhaal vir bewaring
  • Die getalle van die groter eenhoring-renoster het van minder as 200 vroeër in die 20ste eeu tot 3 550 toegeneem, veral danksy die Indiese en Nepalese bewaringsowerhede se toedoen.
  • Stropery van die pragtige diere is egter nog ’n groot bedreiging. Hulle kom hoofsaaklik in die norode van Indië en die suidelike gedeeltes van Nepal voor.
  • Hulle kan die skaal tot op 2 700 kg laat kreun en ’n volwasse renoster se horing kan tot 61 cm groei.

Bronne: sputniknews.com, rhinos.org, thestar.com