Deon Cornelius, eienaar van uBhetyan-o-Africa in Middelburg, het twee weke gelede die swembad leeggetap om dit te herstel toe die kalfie in die swembad beland het.

Deon sê hulle is nie seker hoe die kalfie in die swembad geval het nie. Deon en sy span rehabiliteer wilde diere op hul plaas en het ’n groot verskeidenheid wild waarna hulle omsien. 

Hy het die oggend die renosterkoei al om die swembad sien draf en toe hy nader kom, het hy die kalfie in die swembad gesien. 

“Dit is die koei se eerste kalfie en sy was ontsettend aggressief,” vertel hy. 

“Ons het begin skree en geraas maak om die koei en die bul weg te lok van die swembad af sodat ons by die kalfie kan uitkom.” 

Toe die koei en bul op ’n veilige afstand is, het hy en vier werkers in die swembad geklim om die kalfie, wat omtrent 70 kg weeg, uit te lig. 

“Toe ons hom optel het hy soos ’n varkie begin skree en dit het die koei nog meer gespanne gemaak. Gelukkig het sy gekalmeer toe ons hom op die grond neersit. Die kalfie het my eers ’n stamp gegee voor hy na sy ma toe gehardloop het.” 

Deon sê die kalfie, wat Codi heet, het geen beserings opgedoen nie en is weer pure renoster.