Nadat ’n yslike luislang in Februarie vanjaar in haar badwater kom afkoel het, het een gedagte Tanya Joubert gerusgestel: So ’n ongewone voorval kan tog sekerlik net een keer in ’n leeftyd gebeur.

Helaas nie, vertel Tanya, ’n inwoner van Hoedspruit in Limpopo, Donderdag aan Huisgenoot.

Sy het skaars herstel ná die vorige voorval toe nóg ’n luislang vir die Joubert-gesin wou kom kuier. En dié keer was die gedierte 'n meter langer as sy maat.

“Ons het ’n duur les geleer nadat die vorige luislang by my dogtertjies, Zelda (12) en Annie (8), se kamervenster ingeglip en badkamer toe geseil het: Ons moet maar altyd die vensters in die kamers toehou,” vertel Tanya. 

'Vreemde geluid'

Slang
Die gesin. Van links is Frikkie, Zelda, Annie en Tanya. Foto: Verskaf

Toe ’n vreemde geluid Maandagaand (1 April) uit haar dogtertjies se kamer kom, het sy dadelik gaan ondersoek instel.

Sy het ’n luislang van ongeveer 3 m lank gesien wat probeer toegang verkry tot die kamer – en nogal op presies dieselfde plek waar die vorige slang die huis binnegekom het.

“Dit was ongelooflik angswekkend om te aanskou,” sê Tanya.

“Die slang het hom teen die venster gedruk; en toe hy nie kan inkom nie, het hy met sy kop en lyf teen die venster gekap. Ek het besef hy wil regtig binnekom . . .

“En nie geweet wat op aarde ons gaan doen as hierdie yslike ding wel inkom nie.”

Sy het onmiddellik die Kinyonga-reptielsentrum op Hoedspruit gebel wat ’n slangvanger na die gesin se huis gestuur het.

Luislang
'n Hele span van die Kingonga Reptile Center moes help om die luislang te vang. Foto: Verskaf

“Ons kon darem daarin slaag om hom te verjaag, en hy het toe tussen my man se gereedskap en motorfiets gaan lêplek soek. Toe die slangvangers hier aankom, was dit nogal ’n storie om die mannetjie te vang.”

'Luislange teister ons'

Tanya sê sy wonder steeds waarom die slange juis haar en haar man, Frikkie, se huis op River Lodge kies; veral omdat sy net die ander dag nog ’n spoegkobra ook in haar tuin betrap het. 

“Ons bly maar tussen die berge, so ons is gewoond daaraan om pofadders en swartmambas hier te sien. Maar die luislange teister net ons huis. Daar is twee ander huise hier neffens my, huise wat baie nader aan die berge is.

“Waarom hulle juis ons s’n kies is vir ons ’n raaisel. Dalk lyk dit of my huis lekkerder kan kuier,” sê sy en lag.

Die slang is volgens die Kinyonga-reptielsentrum in kwarantyn en sal ná ’n rehabilitasieproses weer in die berge vrygelaat word.