Ná vier weke in die hospitaal is dr. James Garisch (73), ’n gastroënteroloog van Port Elizabeth, Donderdag na die Aurora-rehabilitasiehospitaal oorgeplaas.

Dit is by hierdie einste hospitaal waar James sy praktyk het. 

In ’n roerende video wat wyd in die sosiale media gedeel is, kan mense sien hoe die personeel van Life St. George’s-hospitaal ’n erewag maak toe hy die hospitaal verlaat. 

“Dr. Garisch, namens jou St. George's-familie. Dankie, dankie dat jy ons geseën het met jou herstel,” sê die matrone van die hospitaal, Sentle Moroeroe.

“Dankie dat jy deel is van hierdie familie vir soveel jare. Ons dank God dat jy vandag hier kan uitgaan en met jou familie herenig kan word en almal van ons wat so lief is vir jou. 

“Ons wens jou ’n volle herstel toe en ons hoop om jou gou te sien.”

James was altesaam 12 dae lank op ’n ventilator en moes ook dialise kry.

“Hy is nog baie swak en kan nog nie staan of loop nie,” vertel sy vrou, Dianne Garisch. “Die personeel en sy dokter, dr. Niel du Plooy, was wêreldklas,” vertel Dianne. “Hulle verdien almal medaljes. Die mense van Port Elizabeth was almal net so wonderlik.

“Hy het die statistiek verkeerd bewys en oorleef,” sê Dianne.

Sy en hul 31-jarige seun, Martin, het ook die virus opgedoen, maar hulle het intussen volkome herstel.

Dianne sê James was aanvanklik baie teensinnig om hospitaal toe te gaan en het vreeslik vasgeskop, maar sy kollegas het seker gemaak hulle doen alles in hul vermoë om hom te red. 

“Ek kan nie genoeg beklemtoon hoe goed hulle na hom gekyk het nie. Wêreldklas.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe