Die onderkaptein van die eerste rugbyspan van die Hoërskool Brandwag op Uitenhage het op 7 Mei by provinsiale rugbyproewe by die Hoërskool Framesby sy nek ernstig beseer.

“Baie dankie vir elke liewe gebed wat dag en nag uitgespreek word. Die infeksietelling lyk beter, en Dano het ’n lekker dag gehad,” het Dano se ma, Sanet, onlangs op die Facebookgroep Bid vir Dano laat weet.

Terwyl Dano se toestand oor die afgelope paar weke stelselmatig begin verbeter het, het talle boodskappe van bekende rugbyspelers ingestroom om hom sterkte toe te wens.

Boodskappe van onder andere Willie Britz, wat tans vir die Sunwolves speel, en Marlyn Williams, die Boland Kavaliers se kaptein, is op die Facebookgroep gedeel.

“Ek het gehoor wat met jou gebeur het, dit is verskriklik hartseer. Dit is ongelukkig deel van hierdie great game wat ons speel,” begin die Bulls-kaptein Handré Pollard in ’n video. “Ek wil net vir jou sê jy is in ons gebede; almal hier by die Bulle is bankvas agter jou. Ons weet dit gaan beter raak.”

“Sterkte, my maat, asseblief moenie negatief raak nie. Kyk altyd na die positiewe. Alles sal uitwerk soos dit moet. Die Here seën jou,” het die Stormersbreker Eben Etzebeth onlangs in ’n video aan Dano gesê. 

Die Cheetahs se senter Nico Lee en die Biltzbok-sterre Philip Snyman en Cecil Afrika het Dano ook sterkte toegewens.

Benewens die boodskappe van talle rugbyspelers wat gereeld op die groep gedeel word, is daar ook onlangs foto’s van Dano en sy gesin op Vadersdag gedeel.

Dano is hospitaal toe gehaas toe hy tydens die wedstryd op pad doellyn toe platgeduik is en nie weer opgestaan het nie. 

“Toe sy ma by hom kom, het hy gesê: ‘Mamma, ek is verlam',” lui ’n verklaring van die groep.

“Ná 'n operasie om die fraktuur in sy nek te herstel het sy toestand begin verswak en is hy na die waakeenheid oorgeplaas,” lui die boodskap verder.