Boonop vertolk Juliette Pauling die rol van al drie skreeusnaakse karakters: die enkelma Cheryl, ook bekend as Chezza, én haar twee kinders, Sasha en Dwayne. Soms klits sy selfs nog ’n karakter by, soos die van die blonde “Brenda”. 

“Ek is redelik nuut in die bedryf,” vertel Juliette aan Huisgenoot. Hoewel sy drama studeer het, het sy ook ’n sjefsdiploma voltooi en vir ’n kort rukkie as sjef gewerk.

“Ek het vinnig agtergekom om ’n sjef te wees, is glad nie glansryk nie. Ek het die kombuis verlaat en begin om van die huis af te bak. Ek bak steeds,” vertel sy. 

Maar sy het sowat twee jaar gelede besluit om ’n loopbaan as aktrise ’n behoorlike kans te gee. Sy het by ’n agentskap aangesluit en oudisies begin doen. Omdat sy nog nie baie ervaring het nie, het sy ook nog nie ’n saamgestelde video van al die rolle wat sy al vertolk het nie en kan sy dit ook nie voorlê aan enige produksies wat na akteurs op soek is nie. 

“Ek het nie een (so 'n video) gehad nie. Hel, ek het steeds nie een nie. My grootste claim to fame is ’n Belgiese versekeringsadvertensie,” spot sy.

“En dit het my gepla, want ek wil raakgesien word deur agente, maar ek het gedink sonder so ’n show reel, sal ek nooit die kans kry nie.”

En só het die idee vir die Anderson-gesin stadig maar seker aan die begin van die jaar begin vorm aanneem. Sy het in Januarie met haar selfoon gesit en sommer ’n opname gemaak van ’n ma wat met haar seun praat. “Ek het eintlik maar net na die muur gestaar,” vertel sy. “Ná ek die opname gemaak het, toe dink ek, ek moes eintlik ’n kostuum aangetrek het en bykomstighede gebruik het. Dit sou skreeusnaaks wees.”

Die volgende dag, toe sy ná ’n oefensessie by die gimnasium tuis kom, het sy ’n kort episode verfilm van ’n ma wat by haar pilates-klas aankom en dan met haar seun praat wat sy rugbybal in haar kar vergeet het. Sy het toe sommer nog ’n karakter of twee bygevoeg en het eindelik iets gehad om haar toneelspelvaardighede vir mense te wys. 

“Maar ek was nie van plan om dit die wêreld in te stuur nie. Ek was te bang,” bieg sy. Tog het sy op ’n dag die moed bymekaar geskraap en besluit om die kans te vat en haar video op sosiale media te deel.

“Die terugvoer was ongelooflik,” vertel Juliette. En so het sy nog ’n video gemaak. En nog een, en nog een. 

Eindelik, net toe nasionale inperking begin, het ’n vriend voorgestel sy dokumenteer hierdie familie wat sy geskep het se lewe tydens die inperking. En siedaar, die skreeusnaakse en gewilde Andersons het vir baie mense ’n daaglikse dosis lagmedisyne geword.

Sy vertel dat die karakter geïnspireer is deur 'n kombinasie van mense wat sy ken. 'n Ekskêrel, vriendinne van haar ma, meisies met wie sy vriende was en vriendinne se ma's. 

Volgens Juliette neem dit haar omtrent ’n halfuur om elke episode te verfilm. Maar die redigering van die verskillende video’s en die aanmekaarsit van die episode neem haar tussen twee en vyf uur.

“Ek het nie filmwese studeer nie, so ek raak nog gewoond aan die redigering,” verduidelik sy.

Sy werk ook nie vooraf ’n draaiboek uit nie en improviseer soos sy aangaan. “Ek improviseer met een karakter en dan laat ek die ander karakters daarop reageer,” verduidelik sy.

Sy gebruik ’n ou selfoon en driepootstaander om die video’s te verfilm. “So ek probeer gedurig verskillende hoeke en voorwerpe kry waarop ek die driepootstaander kan balanseer.”

Juliette, wat in Kaapstad woon, bring die inperking saam met haar ma op ’n plaas buite die stad deur en doen meeste van die verfilming daar. “Ek het die plaas omskep in “Aunt Brenda” se huis,” verduidelik sy oor hoe die plaas deel geword het van haar reeks. 

Sy meen die reaksie op haar video’s het haar verras. “Party mense sê ek kry hulle deur die inperking. Ander mense bedank my omdat ek hulle laat lag. Ek is baie bly dat ek vir party mense ’n vorm van vreugde kan gee en vir sommige mense iets kan gee om na uit te sien in hierdie ontwrigtende en vreesaanjaende tyd.”

Juliette hoop om aan te hou met die video’s en sê sy is in kontak met mense wat wil kyk of hulle dié projek nie verder as sosiale media kan neem nie.

“Ek weet nog nie presies wat dit sal behels nie, maar die vooruitsig om die Andersons dalk ’n bietjie verder te neem as ’n reeks wat met ’n selfoon opgeneem is, is baie opwindend.”