Toe dié boorling van Port Elizabeth, wat die skaal op 177 kg getrek het, besluit om 'n sjef te word, was sy ouers, Yvonne en Ettienne Peters, behoorlik bekommerd. Hulle het gedink hy gaan nog meer gewig aansit. Maar tot hul verbasing het die teenoorgestelde gebeur. 

gewigsverlies
Jacques het voorheen 177kg geweeg. Foto: Verskaf
gewigsverlies
Hy geniet dit om te braai. Foto: Verskaf

Jeandré het binne ’n jaar en ’n half meer as 70 kg afgeskud en weeg nou 104 kg. 

“Hy het tot dusver 73 kg verloor sonder enige hulpmiddel, en dit net deur reg te eet,” vertel sy pa, Ettienne, aan Huisgenoot. 

“Baie kinders en jong mense wat vet is, gee moed op en gebruik verslankingsprodukte sonder sukses. Jeandré wil ander soos hy aanmoedig sodat hulle ook ’n goeie gehalte lewe kan lei.”

sjef,gewig
Jeandré is tans 'n sjef by 'n luukse hotel in Aboe Dhabi. Foto: Verskaf

Jeandré, wat as 'n sjef in ’n luukse hotel in Aboe Dhabi werk, vertel hy het van kleins af saam met sy ouma, Pam Peters, in die kombuis gebak en brou, maar aan die einde van 2017 het hy besluit hy wil nie meer ongesond leef nie. 

Die keerpunt het gekom toe hy by ’n hotel in Doebai uitgehelp en behoorlik deur sy skof gesukkel het. “Ek was so moeg. My voete was seer en ek was so oorgewig. Dit was ’n baie rowwe aand.”

braai,vriend,sjef,gewig
Jeandré en sy vriend Jacques. Foto: Verskaf

Saam met sy vriend en destydse kollega Jacques Le Roux (23) het hy toe besluit om gaskoeldrank en lekkergoed as deel van sy nuwejaarsvoornemens uit te sny. 

Jeandré het voorheen elke dag ’n 2-liter-bottel gaskoeldrank gedrink. Hy vertel dit neem tyd om jou eetgewoontes te verander, maar dat dit wel moontlik is. 

“As jy drie weke lank met 'n dieet kan volhard, is die kans goed dat jy suksesvol sal wees,” meen hy. 

“Ek het nie juis geoefen nie. Ek was daagliks op my voete en dis maar hoe ek aktief gebly het. My ouers het my elke dag aangemoedig om by my doelwit te hou.” 

gewigsverlies
Jeandré is vandag vol energie nadat hy 73kg ligter is. Foto: Verskaf

En het hy gedink dat hy in minder as ’n jaar en ’n half 73 kg sal kan afskud?

“Nee, ek het glad nie gedink ek sal naastenby daar uitkom nie. Die eerste drie weke was taai; daarna moet jy ’n kopskuif maak. Ek is nou al ’n jaar en vier maande sonder gaskoeldrank en ek het nooit gedink ek sal dit kan prysgee nie,” bieg hy. 

“Die hoeveelheid gaskoeldrank wat ek gedrink het, was my ongesondste gewoonte. Dis nogal maklik om aan gaskoeldrank verslaaf te raak."

Noudat hy 'n nuwe lyf het, is Jeandré vol energie en lewenslus. 

“Toe ek so groot was, het ek baie geslaap en dis ’n slegte gewoonte om heeldag te lê. Maar nou kan ek vinniger beweeg. Ek kan gaan visvang en enigiets doen wat ek wil.

“Ek kan ook met meer gemak in klere pas. Ek hoef nie heeltyd te worry of hierdie hemp of daardie broek vir my sal pas nie. ’n Mens voel trots op jouself nadat jy gewig afgeskud het en enige klere vir jou pas.”