Lukas du Preez
Lukas du Preez, ’n advokaat van George, kan nie glo hoeveel reaksie ’n video uitgelok het van hom wat sy trekklavier buite die hospitaal bespeel waar sy vrou, Marinda, al byna twee weke lank wees covid-19 gehospitaliseer is nie. Foto: Verskaf

Ná meer as vier dekades van getroude lewe het hy geweet daar was een ding wat sonder twyfel haar gemoed sou kon ophelder: die towerklanke van die trekklavier.

Dis om dié rede dat Lukas du Preez (64) Woensdag buite die Life Bay View-hospitaal in Mosselbaai gesien is waar hy sy trekklavier in die parkeerterrein speel.

Hy het geweet die klanke van dié musiekinstrument sou sy vrou, Marinda (66), laat glimlag, vertel hul seun, Ryno (37). 

Marinda is al bykans twee weke lank met covid-19 gehospitaliseer, en die verlange het vir Lukas, ’n advokaat van George, eenvoudig net te erg geword. 

“Ek dink dit was maar bitter moeilik vir my pa om nie my ma te kan sien nie,” vertel Ryno Vrydag aan Huisgenoot. “Sy word – nes die ander pasiënte met covid-19 – ook in afsondering gehou. Ons kan nie eens vir haar blomme neem nie. Hy het geweet sy sou weet van sy teenwoordigheid as sy die trekklavier kon hoor.” 

Lukas het ’n hospitaalsuster gevra om die venster van Marinda se hospitaalkamer effentjies oop te skuif terwyl hy die instrument bespeel. 

Lukas bespeel die trekklavier buite die Life Bay View-privaathospitaal in Mosselbaai. Foto: Charlotte Barnard/Facebook
Lukas du Preez
Lukas en Marinda op hulle troudag. Foto: Verskaf

Terwyl hy die trekklavier gespeel het, het ’n personeellid van dié hospitaal Lukas verfilm. Die video is intussen al honderde duisende kere gekyk en het kommentaar van reg oor die wêreld ontvang. 

“Dis ongelooflik,” sê Ryno oor die wye reaksie op die video. “My pa bespeel al jare lank die trekklavier, maar gewoonlik was dit maar net vir ons. Sy doel daarmee was maar net om haar gemoed te lig – hy kan daarom nie glo hoeveel reaksie die video wêreldwyd ontvang het nie.” 

Lukas en Marinda is al 44 jaar getroud. Dit gaan met haar goed onder omstandighede.

“My pa het so 45 minute lank buite staan en speel en my ma was die heeltyd bewus van hom. Ek dink dit het haar ongelooflik goed gedoen om net weer iets te hoor wat vir haar bekend klink,” vertel hy. 

“My ma is steeds in die intensiewesorgeenheid waar dokters haar suurstofvlakke deurlopend dophou, maar dit lyk of sy goed herstel. Dis maar vasbyt in hierdie stadium. Ons is optimisties en hoop sy sal in die volgende week ontslaan word.”

Ryno sê Lukas het boodskappe van so ver as Australië en Nieu-Seeland ontvang.

“Die reaksie is oorweldigend om die minste te sê,” vertel hy. “Mense van reg oor die wêreld laat weet dis ongelooflike mooi gebaar van liefde en hoop. Ek dink ons almal het sulke stories van hoop en vasbyt nou meer nodig as ooit.” 

Hoe voel Lukas oor sy nuutgevonde roem? 

Ryno lag. “Ek weet nie of hy heeltemal bewus was van die krag van sosiale media nie,” sê Ryno. “Maar dit maak hom ongelooflik dankbaar om te weet sy gebaar beteken ook iets vir ander mense in hierdie tyd. Dit wys daar is hoop – al lyk dinge ook hoe donker.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe