Hul besonderse weergawe van Steve Winwood se liedjie "Higher Love", met 'n eg Suid-Afrikaanse kinkel, het hulle laat deurdring na die eindronde van America's Got Talent.

Dié vertoning het die gehoor omtrent aan die dans gehad. Selfs twee van die beoordelaars se voete het gejeuk. Teen die einde van hul optrede was daar nie 'n enkele siel wat hulle nie staande toegejuig het nie.

Dit volg op 'n reeks puik optredes wat gewys het hoe die 25 Suid-Afrikaners van die Ndlovu-jeugkoor diep in die gehoor en beoordelaars se harte gekruip het – om nie eens van miljoene televisiekykers dwarsoor die wêreld te praat nie. 

Van 'n beskeie naskoolse aktiwiteit in 'n klein dorpie in Limpopo, tot 'n geliefde musieksensasie wat in een van die wêreld se grootste talentkompetisies uitblink, is daar eenvoudig geen keer aan die jongklomp se drome nie. 

Die Ndlovu-jeugkoor ná hul puik vertoning in die A
Die Ndlovu-jeugkoor ná hul puik vertoning in die America’s Got Talent-semifinaal. Foto: Twitter/@ChoirAfrica

Voor hul deelname aan die 14de seisoen van die gewilde Amerikaanse-talentsoekkompetisie was die koor en hul plattelandse tuiste buite Elandsdoorn in Limpopo onbekend onder meeste mense.

Tog is die koor reeds in 2009 gestig en het die teenwoordigheid daarvan deur die jare 'n groot invloed op sy lede gehad. Die koor se uitgangspunt was nog altyd dat jy ongeag jou agtergrond uitnemendheid kan bereik.

En sedert 'n video van hul oudisie vir die program miljoene kykers in die sosiale media bereik het, het die Ndlovu-koor die wêreld aan die gons. Die koor het toe Vicky Sampson se "African Dream" gesing.

Vir Ralf Schmitt (37), die dirigent, is dit asof hulle die droom van hul oudisielied uitleef.

“Ons wou ons storie vertel en die wêreld aan ons koor voorstel,” het hy voorheen aan Huisgenoot vertel. 

“Dit bly ’n Amerikaanse program en ons moet liedjies uitvoer waarby ’n Amerikaanse gehoor sal aanklank vind, maar niks het werklik gekom by die boodskap 'African Dream' nie.”

America's Got Talent keer op 10 September terug vir die tweede helfte van die halfeindronde, en die daaropvolgende week keer die Ndlovu-jeugkoor terug vir die eindronde. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.