Dit was die geval die afgelope Sondagaand toe 'n seekoei rustig na 'n Engen-vulstasie op die KwaZulu-Natalse kusdorp St. Lucia gestap het op soek na iets om aan te kou.

Die OK Express-winkel by die vulstasie het 'n video gedeel van 'n enorme seekoei wat die stasie rustig binnestap terwyl joggies petrol ingooi.

Die video het intussen soos 'n veldbrand versprei en is meer as 10 000 keer gedeel. 

Volgens Raymond Zulu, bestuurder van die Engen, is die voorval nie so buitengewoon nie. 

“Dit gebeur so een keer per maand,” vertel hy laggend.  

“Die dam waarin die seekoeie bly is minder as 'n kilometer van die vulstasie af. Snags stap hulle tussen die geboue naby die dam rond, op soek na gras. Soms sal hulle net 'n bietjie verder stap en hier by ons opdaag.”

Raymond sê inwoners van dié dorp beskou dit as 'n “normale voorval” en dat almal weet hulle net nie naby die seekoeie moet kom of hulle probeer voer nie.

“Ná 'n rukkie sal die seekoei omdraai en rustig terugstap dam toe,” vertel Raymond.

Volgens hom loop daar gereeld wilde diere vry op die dorp rond en moet inwoners gereeld die vensters van hul huise toemaak om te keer dat bobbejane ongenooid binnegaan.

“Ons hoef nie geld te betaal om na die natuurreservaat te gaan om die diere te sien nie; hulle loop sommer hier in die strate rond. En solank mense van hulle wegbly, is dit baie veilig,” sê hy.

  • St. Lucia is in KwaZulu-Natal. Die dorp is die middelpunt van die Greater St. Lucia Wetlands Park.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.