Logan se pa, Nicolaos Karagiannakis, en sy ma, Mariska, is albei lief vir dié waaghalsige sportsoort. 

“Ek is ’n instrukteur by die Skydive Pretoria Klub. Vandat Logan vier was, is hy elke naweek saam met my by die klub en sê hy hy wil tandem spring,” sê Nicolaos aan Huisgenoot. 

Nicolaos is ’n baie ervare valskermspringer met meer as 1 700 spronge agter die rug.

Kyk net daai glimlag op Logan se gesig. Foto: Verskaf
Logan se pa gooi 'n ogie oor sy seun se eerste valskermsprong. Foto: Verskaf

Maar hy vertel gewoonlik mag kinders eers van die ouderdom van 12 af spring en dan ook nét as die persoon aan wie hulle vasgegespe is, dit goedkeur. 

“’n Mens wil nie kinders bangmaak nie. Dit kan ook hul ore seermaak as hulle nie weet hoe om hul ore te reguleer nie,” sê hy. 

Logan het dus sedert begin vanjaar saam met sy pa in die vliegtuig opgegaan voor dié sou spring sodat hy kon beleef hoe dit in die lug is wanneer die vliegtuig se deure oopgemaak word. 

“Jy moet verstaan: Dit kan vreesaanjaend wees, maar Logan het by die klub grootgeword en hy het al soveel geleer van dié sportsoort,” vertel Nicolaos.

En die seun met die Batman-top was die ene glimlagte toe hy vir die eerste keer uit daai vliegtuig spring. 

Terwyl hy honderde meters in die lug is voor hulle uitspring, sê hy ewe dapper: "Ek voel fine." 

Kyk ’n videogreep van Logan se sprong hier.

“Hy het saam met Bailey Edmunds gespring," vertel sy pa. "Bailey sê toe daai valskerm oopgaan, was Logan ekstaties. Toe hy op die grond land, kon hy nie ophou glimlag nie en het almal high fives gegee." 

Nicolaos het dieselfde tyd as Logan uit die vliegtuig gespring. Hy vertel dit was iets besonders om dit saam met sy seun te beleef. 

“Kort nadat Logan se voete die grond getref het, vra hy al wanneer hy weer kan gaan spring,” vertel Nicolaos laggend.