Die jong en pragtige donkerkop sou haar 21ste verjaardag – ’n mylpaalverjaarsdag soos sy dit noem – met haar neef vier.

Maar terwyl hulle deur die besige strate van Londen gery het, het ’n onbekende man hul voertuig genader toe hulle by ’n rooi verkeerslig stop.

Resham Khan (21) en Jameel Muhktar (37) se aanvaller het hulle met suur gegooi en hulle het afgryslike beserings as gevolg daarvan opgedoen, het  The Mirror vroeër in 2017 berig.

“Die pyn was ondraaglik, ek het gesukkel om die venster toe te maak,” het Resham in ’n hartverskeurende bloginskrywing ná die voorval in Junie 2017 geskryf.

“My neef het gesukkel om ons daar weg te kry.”

Nou, vier maande ná hul beproewing, het die aspirerende model ’n foto van haar gesig ná ’n merkwaardige herstel gedeel.

“Tyd om op te hou wegkruip,” het sy geskryf by die foto wat sy met haar 20 000 Twitter-volgers gedeel het. 

Resham se volgers, vir wie sy gereeld oor haar herstelpad ingelig het, het haar dapper genoem.

“Hou aan om deur grense te breek en die standaard te stel, jy vaar uitstekend, Resh! Met jou moed en hart, is jy vir groot dinge bestem,” het een gebruiker geskryf.

Nog een het beste wense oorgedra. “Pragtig en sterk. Alle sterkte aan jou. Moet nooit jou drome laat vaar nie, jy sal kry wat jy wil hê. God hou wag oor jou.”

Die aanval, wat in Beckton in die ooste van Londen gebeur het, het Resham met ernstige beserings gelaat, waarvan sommige permanent is.

Volgens Evening Standard moes Resham, ’n student in sakebestuur, verskeie veloorplantings en operasies ondergaan om haar brandwonde te behandel.

John Tomlin (24) is in hegtenis geneem in verband met die voorval, berig Evening Standard.

Hy sal op 27 November by die Southwark-hof verhoor word. 

Bronne: Mirror.co.uk, Evening Standard, Yahoo