KYK: So lyk plunderspoor deur Zuma-ondersteuners dié naweek

akkreditasie
Die nuus oor oudpresident Jacob Zuma se inhegtenisname die afgelope week is wyd gevier, maar ’n groot gros landsburgers het nie die sentiment gedeel nie. Inteendeel, gewelddadige protes in weerwil oor die verwikkelinge het sedert Vrydag ontplof.

Beelde van mense wat die strate invaar, winkels plunder en aan die brand steek en strate met vullissakke versper, doen sedert Vrydag die rondte.

Dit het aanvanklik in Zuma se tuisprovinsie, KwaZulu-Natal, begin en die afgelope naweek oorgespoel na Gauteng.

South Africa Police Services (SAPS) officers stop
Die polisie stop mense wat betoog en plunder in Durban se middestad. Foto: Foto's: Getty Images/Gallo Images
 

Zuma se aansoek in die konstitusionele hof om sy skuldigbevinding aan minagting van die hof te heroorweeg en te herroep, word vandag aangehoor. Hy is tot 15 maande tronkstraf gevonnis.

Die nasionale gesamentlike en operasionele intelligensiestruktuur (NatJoints) het Sondag in ’n verklaring gesê polisie in Gauteng en KwaZulu-Natal werk nou saam om misdadigers aan bande te lê. 

Teen Maandag het News24 berig sewe mense is dood en meer as 200 in hegtenis geneem.

Die polisie in Gauteng het onder meer reageer op insidente waar besighede in die areas Jeppe en Alexandra geplunder en paaie versper is, lui NatJoints se verklaring. Altesaam 25 verdagtes is hier in hegtenis geneem. 

Hulle het ook 300 mense uiteengejaag wat die M2-hoofweg versper het. 

In Alexandra is 18 verdagtes in hegtenis geneem vir openbare geweld, hiervan word 16 verbind met die skietery van ’n polisieman wat hospitaal toe gejaag moes word. 

Die ander twee verdagtes word verbind met die besit van gesteelde goed. 

Dít volg nadat die polisie in kennis gestel is van ’n groep van 800 mense wat eiendom teiken en plunder. Hulle het die polisie toe glo aangeval en dit het daartoe gelei dat twee polisiemanne geskiet is. 

Die polisiemanne is behandel en net een is nog in die hospitaal. Hy is in 'n stabiele toestand. 

Intussen word die skietdood van ’n 40-jarige man wat in ’n plaaslike kliniek oorlede is, ondersoek.

In KwaZulu-Natal het gewelddadige protes reeds Vrydag begin en teen Sondag is 37 mense in hegtenis geneem. 

NatJoints is hard aan die werk om die situasie onder beheer te bring. 

“’n Waarskuwing is uitgereik oor boodskappe wat geweld en wetteloosheid aanmoedig. Mense kan krimineel vervolg word, veral as dit lei tot beserings of dood as gevolg van die reaksie deur wetstoepassers op hierdie dade van geweld en opportunistiese kriminele gedrag.”

Maandagmiddag het die Suid-Afrikaanse weermag aangekondig dat magte in Gauteng en KwaZulu-Natal ontplooi gaan word om bystand te verleen.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees