Ná ’n naweek van swaar reën oor die meeste dele van die Wes-Kaap het baie nuuskieriges gaan kyk hoe die watervlak van die Theewaterskloofsdam – dié provinsie se grootste opgaardam – nou daar uitsien.

Na aanleiding van foto’s is dit duidelik dat hoewel die watervlak nou minder kritiek lyk, nog reën moet val om te die krisis af te weer. 

“Aangesien ons nou eers halfpad deur die winter is, is dit van kritieke belang dat al ons beperkings aanhou geld,” sê Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir informele nedersettings, water, sanitasie en energie.

“Ons is nou besig om uit die krisis te kom, maar dit bly belangrik dat ons aanhou om die lesse en praktyke toe te pas wat ons uit hierdie droogte geleer het. Dit het ons laat besef wat dit beteken om in ’n waterskaars streek te woon.”

Volgens die stad Kaapstad se webtuiste is Theewaterskloofdam nou net oor die 30% vol. Wat die hele provinsie betref, staan die damvlakke op 42,7%.

Volgens inligting van die Kaapse stadsraad was Theewaterskloofsdam verlede jaar dié tyd net 18% vol, maar in 2014 het dit op 98% gestaan.

Die stad gebruik tans 527 m. L water per dag, wat steeds meer as die mikpunt van 450 m. L is. 

Daarom moedig Xanthea Kapenaars aan om aan te hou water bespaar en seker maak te maak al die harde werk wat gedoen is om die provinsie se water te bespaar en beter te bestuur, is nie verniet nie.