Die sopraan Begona Alberdi is as gevolg van die Spaanse regering se afsluiting tans saam met haar man ingehok in hul woonstel in Barcelona.

Alberdi het aan Newsflash vertel: “Die bure het om 8 nm. hospitaalwerkers toegejuig en ons het meegedoen. Dit was roerend om te sien hoe almal bymekaarkom om hulle te bedank.

“Dit het my geraak en ek het gedink ons leef almal in ’n baie koel wêreld.”

Sy vervolg: “Die gedagte om te sing het by my opgekom en my man sê toe vir my ‘nou toe, sing dan’, en toe begin ek sing.”

Jy kan op die video haar bure hoor sê “wow” toe Alberti se operatone die lug vul en inwoners van hulle balkonne af toekyk.

Op een stadium kan jy hoor hoe die kamerapersoon gedemp snik by die aanhoor van Alberti se sang. Beeldmateriaal van die gebeurtenis is wyd op die sosiale media gedeel en Alberti het aan Newsflash vertel: “Een van my vriende wat in die omgewing woon, het my van die video’s vertel en nou versoek die mense my om elke dag te sing.” 

Begona Alberdi
Die operasangeres se ondervinding strek oor meer as 30 jaar, Foto: Newsflash/@mariajo_suarez/Magazinefeatures.co.za

“Dis so pragtig en ek sal voortgaan met een lied per aand vir so lank as wat die afsluiting duur”. 

Alberdi het grappenderwys voortgegaan: “Ek het reeds 273 keer in die Liceu (Gran Teatre del Liceu in Barcelona) opgetree, en nou lyk dit asof my roem veroorsaak word deur my singery hier deur my venster!” 

Die operasangeres se ondervinding strek oor meer as 30 jaar, en sy het ook al in New York opgetree. Dit lyk ook asof Alberdi haar belofte hou van een lied per aand, want sy het volgens berigte die bure die volgende aand weer vermaak.

Sy het aan Newsflash gesê: “Dis nou tyd om tuis te bly. Ons sal later tyd hê om weer te gaan wandel en die gewone dinge te doen, dit is ’n lewensles hierdie sodat ons kan besef dat die gewone dinge ná hierdie tyd gedoen kan word.”