Die voormalige kaptein van die Valke-rugbyspan is op 21 Julie verlede jaar erg beseer toe die bakkie waarin hy was op ’n plaaspad naby Groblersdal in Limpopo gerol het, en hy is sedertdien aan ’n rolstoel gekluister. 

JP se verloofde Zandré sê die robotpak ondersteun sy gewig en laat hom regopstaan. Dit laat hom dan ook toe om te loop. "Hy het gister (Dinsdag) sy eerste tree gegee in een van sy terapiesessies." 

"Hy sê dit was ongelooflik en het sommer normaal gevoel. Hy is nou nog meer gemotiveerd om hard te werk," sê sy. 

JP is na die ongeluk van sy bors af ondertoe verlam. Hy het gebruik van sy arms en gedeeltelik van sy hande. Zandré sê die gevoel en beweging in sy hande het baie verbeter. 

"Hy sien uit om weer die robotpak te gebruik, want die biokinetikus toets ook hoe sy spiere sterker word. Die pak is goed vir sy maagspiere en balans," sê sy. 

Sy vertel hulle klou steeds aan die droom vas dat JP weer eendag op sy eie sal loop. 

JP het in ’n vroeër onderhoud met Huisgenoot gesê dis moeilik om afhanklik van ander te wees. "Gelukkig kan ek nog elke dag oefen soos altyd my gewoonte was," sê JP. "Ek sal nie moed opgee nie. Ek sal fight tot die einde." 

Foto: Verskaf

"Die dokters het hom ’n 10% kans gegee om weer te loop. Hulle ken nie JP nie. Wat by God moontlik is, is by die mens onmoontlik. JP se geloof, positiwiteit en wilskrag is iets besonders," sê sy beslis. 

JP het verlede maand die foto van voor sy ongeluk gedeel, waarin hy sê hy mis dit om in ’n skrum te sak en vir sy span te bloei.