Steelfoto’s van Henri en sy vriendin, Daniellé Janse van Rensburg, wys hoe die twee by ’n toonbank aanmeld en dan deur die veiligheidshekke van die lughawe stap. 

Net soos Henri aansienlik maerder lyk as ’n jaar gelede, het Daniellé ook die kilogramme afgeskud. 

Sy het ook haar skelpienk haredos vir ’n meer stemmige dog byderwetse swart kapsel verruil. 

Henri en sy vriendin Daniellé Janse van Rensburg. Foto: Mike Behr

Netwerk24 berig Henri het toestemming gekry by die direkteur van openbare vervolging om by sy ouma aan moederskant in Gauteng te gaan kuier. Hy moet glo teen Donderdag terug wees in die Moederstad. 

Henri sal Maandag 21 Mei in die hooggeregshof in Kaapstad verskyn en na verwagting sy lot hoor wanneer regter Siraj Desai uitspraak lewer. 

Henri word beskuldig van die moord op sy ouers, Teresa (55) en Martin (54) van Breda, asook hul oudste seun Rudi (22).

Die gesin het in die De Zalze-landgoed tussen Stellenbosch en Somerset-Wes gewoon toe hulle in 2015 met ’n byl aangeval is. 

Henri se jonger suster, Marli van Breda, het die aanval oorleef. 

Henri se prokureur, Lorinda Hofmeyr, kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Ekstra bron: Netwerk24