“Kommer het niemand nog ooit gehelp nie; dit maak dinge net erger en is boonop sleg vir jou immuunstelsel. In die coronatyd gaan jy baie meer baat vind by happiness,” sê Hannelize Gravell, ’n deeltydse privaat musiekonderwyseres aan die Laerskool Table View in Kaapstad oor dié musiekvideo wat sy saam met haar musiekleerlinge opgeneem het.

“Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan, maar ons moet maar probeer!” voeg sy by. 

Hannelize vertel dat die onderwysers van die laerskool sedert die begin van die inperking bemoedigende boodskappe op plakkate geskryf het en foto’s daarvan in die sosiale media met die leerlinge gedeel het.

“Leerlinge en hul ouers het daarop reageer deur antwoorde terug te plaas. Op hierdie manier kon hulle kontak behou, positiwiteit aanmoedig en mekaar motiveer,” vertel sy. 

“Ek wou graag by hierdie inisiatief aansluit en het besluit om ook 'n positiewe boodskap van my musiekleerlinge aan hul mede-leerlinge en gemeenskap te stuur. Natuurlik sou dit musiek moes insluit. Ek het al 'n paar virtuele koor- of orkesvideo's tydens die inperking gesien en wou graag self so iets probeer,” vertel sy. 

Sy meen die video sou ’n geleentheid bied om kontak te maak met die leerlinge en hulle boonop motiveer om hul musiek te oefen. 

“'Don't worry, be happy' is net een van daardie liedjies wat in jou kop vassteek en jou laat goed voel,” sê Hannelize, wat eers ’n verskeidenheid liedjies op die internet oorweeg het. “Ek is mal oor die wysheid van 'when you worry you make it double'.”

Sy meen die liedjie is boonop ook musikaal meer hanteerbaar vir jong musikante wat nog nie so baie ervaring het nie. 

Sy het die video haarfyn beplan en video-opnames gemaak waarin sy elke gedeelte van die video vir die leerlinge verduidelik en demonstreer. Toe het sy die liedjie met ’n metronoom teen die regte tempo gespeel. Die 21 leerlinge moes toe met oorfone na die liedjie luister en saam met Hannelize se opname speel terwyl ’n familielid hulle verfilm. 

“Die video's is weer aan my teruggestuur waarna ek die klankbaan aanmekaargesit het en daarna die videobeelde. Ek het nie baie ervaring daarin nie, so dit is van 'doen-dit-self-tuis'-gehalte. Maar dit pas mooi in die tyd van tuisprojekte waarin ons ons bevind,” sê Hannelize. 

Sy meen dit het ’n week geneem om die hele video te beplan, die opnames te laat neem en die video eindelik aanmekaar te sit. Dit was ook nie sommer net maklik nie. Tussen alles deur het die program waarmee sy die video aanmekaargesit het, probleme gegee en Hannelize moes toe weer van voor af met die redigering begin. 

Die kinders in die video is almal tussen 7 en 12 jaar oud. “Die meeste van hulle het verlede jaar vir die eerste keer met musiek begin en 'n paar van hulle het eers middel Januarie vanjaar begin en het nog net so twee en 'n half maande se onderrig agter die blad,” vertel Hannelize, wat nou tydens die inperking ook aanlyn lesse vir haar leerlinge bied.

Sy gee viool-, blokfluit-, klavier- en kitaarlesse maar meen die inperking en COVID-19 gee hulle ook 'n knou. “Ongelukkig is dit (aanlyn lesse) nie vir almal moontlik nie aangesien baie ouers nie op die oomblik kan werk en hul gewone inkomste kan verdien nie en dus nie die lesse kan bekostig nie,” sê sy.

“Dit was ook deel van die motivering om die video te maak om almal weer te sien en te motiveer om aan te hou oefen en musiek maak. Ek beraam nog planne om kontak te behou met die kinders wat nie aanlyn lesse kan doen nie.”

Sy sê sy het gehoop dat die video die skoolgemeenskap in hierdie verwarrende tyd sal opbeur. 

“Maar ek was verseker verras deur die positiewe opmerkings en hoeveelheid ‘shares’ en ‘views’ wat dit gekry het,” sê sy. “As dit die mense wat tot dusver daarna gekyk het se bekommernisse vir ’n oomblik kon wegneem, het ons in ons doel geslaag. Ek is so trots op die leerlinge!”