Dit is immers welbekend dat hy tot groot kommer van almal betrokke by sy flieks, daarop aandring om sy eie waagtoertjies uit te voer.

Nou hinke-pink die ster nadat hy tydens die verfilming van Mission: Impossible 6 ’n dramatiese sprong tussen twee geboue moes uitvoer.

Gelukkig was Tom aan veiligheidskabels gekoppel - net vir ingeval. Beeldmateriaal wys hoe Tom die gebou in plaas van die dak van die gebou tref.

Hy het wel daarin geslaag om tot op die gebou se dak te klouter waar hy op sy knieë neersak. Dan staan hy op en loop hink stadig na die kant van die gebou.

Dit lyk of die man in groot pyn verkeer.

Maar wag, tyd om stewig vas te gordel. Hier is ’n paar van Tom se doodsveragtende waagtoertjies in die Mission: Impossible-reeks.

In ’n onderhoud met Jimmy Fallon in 2015 het Tom erken hy het nie nodig om sy eie toertjies te doen nie. Maar hy hou daarvan om dit self te doen . . .

Die skrikwekkende toneel waar hy vir Mission: Impossible 5 (Rogue Mission) aan ’n vliegtuig hang, moes agt keer geskiet word.

“Vir ’n oomblik het ek gedink dis nie ’n goeie idee nie,” het hy gesê.

“Ek wou net nie deur ’n voël getref word nie. Maar ek is deur ’n klippie getref. Ons het bitter vinnig beweeg. Gelukkig het dit my net teen my ribbekas getref en ek het gedink my rib is gebreek.”

Wat min weet, is dat Tom opleiding deurloop het om “vry-duik” te doen vir die onderwatertonele. Hy kan sy asem vir ses minute onderwater inhou.

Soos Jimmy tydens die onderhoud gesê het: “Dié man werk baie hard vir sy geld.”

Tien waagtoertjies wat jou asem gaan wegslaan

Nog ’n paar bloedstollende waagtoertjies, van goeie ou swart-en-wit Wilde Weste-cowboyflieks tot Mad Max: Fury Road met Charlize Theron waar waaghalse op pale rondswaai, gaan jou geheel verstom laat.

Bykomende bronne: itv.com, dailymail.co.uk