So sê die man wat nou as ’n held in die sosiale media bestempel word vir ’n video waarin hy vir ’n behoeftige en boonop siggestremde egpaar van Gauteng kruideniersware koop.

Die egpaar in die video, wat hulself net as Ernst en Christelle identifiseer, lyk ooglopend verslons, afgemat en verskroei deur die son.

Hulle moes houe van die lewe verduur, sê BI Phakati (skuilnaam). 

In die video vertel Ernst hoe hy daagliks in wind en weer ure lank met ’n sleepwaentjie in die strate loop, kartonne optel en gaan herwin. Hy word 80c vir 1 kg karton betaal.

“Jy sien baie ouens in die straat wat doen wat ek doen vir ’n sigaret of ’n drankie of iets. Maar ek doen dit vir ’n lewe. My kinders is in die skool. Ek is nie soos die ander nie,” vertel Ernst in die video.

Phakati vra dan vir hom en Christelle waarom hulle nie gereageer het toe hy vir hulle gewaai het nie, waarop die egpaar antwoord hulle is albei siggestremd.

“As ek net kon sien . . . dan sou ek ’n ryk man gewees het. Dan sou ek nie hier in die strate gewees het nie,” sê Ernst. “Ek is ’n armgat, maar ek is nie soos ander mense (op straat) nie.”

In die video neem Phakati Christelle dan na ’n winkel waar hy vir haar ’n waentjie vol kruideniersware koop en later vir die egpaar byna R1 000 in kontant gee.

Ernst waar hy daagliks in wind en weer vir ure lan
Ernst waar hy daagliks in wind en weer ure lank met ’n sleepwaentjie in die strate loop, kartonne optel en herwin.

“Ek het pas uit die winkel gekom toe ek hulle in die straat sien, besig om kartonne bymekaar te maak,” vertel hy.

“’n Mens kan werklik nie help dat jou hart breek nie. Hulle is deur die son geskroei. ’n Mens kan sien hulle kry swaar. Maar hulle sit nie en doen niks nie. Hulle probeer hul heel beste om ’n inkomste van enige aard te probeer kry.”

Hy sê die egpaar kon hul emosies nie onderdruk nie. “Hulle kon nie genoeg dankie sê nie. In vandag se lewe verwag 'n mens nie die goedheid van ander mense nie, en hulle was oorbluf. Maar dis wat ek juis met hierdie video wou wys: Ons almal kan so iets vir iemand beteken.”

Phakati neem Christelle na ’n inkopiewinkel waar h
Phakati neem Christelle na 'n winkel waar hy vir haar 'n waentjie vol kruideniersware koop.

Terwyl meeste hom nou loof vir dié daad – en talle ander soortgelyke video’s op sy Facebook-blad verskyn – is daar ook dié wat bevraagteken waarom so ’n daad verfilm moet word.

“Ek doen dit nie vir myself of vir die erkenning daarvan nie,” sê hy.

“Daarom sal jy nooit my gesig of naam in die video’s sien nie. Dit gaan nie oor my nie. Dit gaan daaroor om sulke video’s te deel, ander te inspireer en mense tot aksie te roep om behoeftiges by te staan. Kan jy dink wat kan gebeur as ons elkeen net een mens help?”

Phakati is ’n gemeenskapsleier in Honeydew waar hy ook ’n biddiens een keer per maand by ’n gemeenskapsentrum lei. Tydens die geleentheid kom behoeftiges van die gemeenskap bymekaar waar hul las met kruideniersware verlig word.

 Hy gee vir die egpaar byna ’n R1 000 in kontant.
Hy gee vir die egpaar byna R1 000 in kontant.

“Ek het die eerste keer so ’n video in 2014 geneem en dit in die sosiale media gedeel. Die idee was om ander mense te kry om betrokke te raak. Maar toe versprei die video wyd – en sedertdien wil baie mense weet hoe hulle betrokke kan raak of help. Vir ons is dit ’n uitbreiding van die woord van God.”

Hy is geroep vir dié werk, sê Phakati. 

“Ek glo met my hele hart dat God elke mens oor my pad stuur wat in een van hierdie video's verskyn. Dan is dit my verantwoordelikheid om te luister. Maar dis nie net oor my pad nie – dis oor ander s’n ook. En daar word van ons verwag om te luister.”