Die vonkelwynproppe klap, die vuurwerk verskiet in die naghemel bo wêreldstede, en baba Nuwejaar gee sy eerste, wankelende treë.

Op die vraag wat 2019 alles vir ons inhou, is daar nog min antwoorde, maar een ding is seker: Die groot politieke sepies van die ou jaar is nog lank nie uitgespeel nie. Maak jou reg vir nog hoogdrama . . .

Ons kyk vooruit na die groot kwessies wat vanjaar voorbladnuus sal wees.

AMERIKA: TAAI TYE VIR TRUMP

In November 2018 se middeltermynverkiesing het die Demokrate die eerste keer sedert 2010 beheer oor die Amerikaanse Kongres se huis van verteenwoordigers verkry. Die Kongres is Amerika se wetgewende gesag.

Dit bestaan uit twee kamers – die “huis” en die senaat. Tydens die middeltermynverkiesing (halfpad deur hul president se vierjaartermyn) word die 435 verteenwoordigers en ’n deel van die senaat se 100 lede verkies. Wetgewing moet deur albei kamers goedgekeur word.

Maar die huis het unieke magte, soos dat alle belasting- en bestedingswetsontwerpe daar ingedien word, en net die huis kan die president in ’n staat van beskuldiging stel. Die Demokrate het dus in die middeltermynverkiesing hul posisie teenoor Trump se Republikeinse Party verstewig danksy die uitbreiding van hul invloed oor die huis se besluite.

‘Die huis kan nou vra om Trump se belastingopgawes te sien.’
Die Amerikaanse president, Donald Trump. Foto: Get
Die Amerikaanse president, Donald Trump.

Trump het vroeër geweier om sy belastingopgawes gedurende sy verkiesingsveldtog bekend te maak, maar die Demokrate in die huis werk nou aan wetgewing wat hom wetlik verplig om dit te doen. Druk dat hy sy opgawes moet wys, het laat in 2018 verskerp weens berigte dat hy sy eiendomsmagnaatpa, Fred C. Trump, na bewering belasting help ontduik het.

Daar is ook vrae oor betalings aan sy ondernemings deur die Saoediregering.

“Die huis kan nou vra om Trump se belastingopgawes te sien en ondersoek doen na die moontlike samespanning tussen Trump se 2016-verkiesingspan en Rusland,” sê prof. Theo Neethling, hoof van politieke studies en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat.

Hy verwys na die voortslepende ondersoek na beweerde Russiese inmengery in die vorige Amerikaanse presidentsverkiesing. Luidens berigte was daar interaksie tussen invloedryke Russe en Trumpbondgenote. Russiese kuberkrakers het glo inligting in Amerika gesteel en versprei om Trump te bevoordeel.

Theo sê die huis kan begin met die proses om Trump in ’n staat van beskuldiging te plaas. Gronde vir ’n staat van beskuldiging kan insluit onbehoorlike gedrag betreffende Trump se veldtog en Russiese hulp, dat hy hieroor gejok en ondersoeke daarna probeer dwarsboom het, en ook moontlike belastingbedrog.

Hy kan ook in 2019 in die sop beland omdat die porno-ster Stormy Daniels in Maart 2018 vertel het sy het in 2006 ’n affair met die president gehad en is kort voor die 2016-verkiesing omkoopgeld betaal om stil te bly.

Twee ander porno-sterre en ’n Playboymodel het ook na vore gekom met bewerings dat hulle affairs met die president gehad het. Dit kan alles teen The Don tel, en die Demokrate sal hul beheer oor die huis probeer gebruik om Trump in 2020 uit die Withuis te skop.

Verwag dus groot drama uit Amerika, voorspel die kenners.

“Tweespalt tussen die landelike en stedelike gemeenskappe, tussen blou- en witboordjiewerkers en tussen populiste en niepopuliste is opsigteliker as ooit tevore,” se Colin Provost, professor in openbare beleid aan die Universiteitskollege van Londen.

BRITANJE EN EUROPA: BREXIT EN GROOT SKUIWE

Die amptelike datum vir Britanje se onttrekking uit die Europese Unie (EU) – Brexit in die volksmond – is 29 Maart, maar baie kwessies moet nog uitgepluis word in die taai onderhandelings tussen Brittanje en die EU, sê Theo.

Wat is byvoorbeeld die toekoms van EU-burgers in Brittanje? En Britse burgers in EU-lande? Daarby is die omvang van die finansiële gevolge van Britse onttrekking aan die EU nog nie duidelik nie.

Die Britse premier, Theresa May.

“Die aard van die toekomstige grens tussen Noord-Ierland, wat deel is van Brittanje, en die Republiek van Ierland, as lidstaat van die EU, is ook nog onduidelik,” sê Theo.

Daar is ook nog in sommige geledere groot ongelukkigheid in Brittanje oor die Britse premier, Theresa May, se kompromis met die EU, wat die Britse kabinet in November goedgekeur het.

Vir geharde Brexit-voorstanders verteenwoordig dit ’n “sagte” Brexit: een waarin Brittanje verbonde bly aan die EU.

Die May-ooreenkoms bepaal dat daar ná die sperdatum van 29 Maart:

’n Oorgangsperiode van 21 maande sal wees waartydens ’n nuwe handelsooreenkoms uitgewerk word en dat Brittanje nog vir dié periode deel van die Europese doeane-unie bly; en

Sowat £39 miljard (R700 miljard) deur Brittanje aan die EU betaal sal word – die sogenaamde divorce bill.

Volgens die geopolitieke ontledingsgroep Stratfor sal 2019 ’n buitengewone jaar vir die Europese Unie wees: Kort nadat Brittanje die EU verlaat, sal lidstate teen einde Mei ’n nuwe Europese Parlement, die groepering se wetgewende liggaam, aanwys.

Daarna volg die aanwysing van ’n nuwe Europese Kommissie, die EU se uitvoerende arm, en ’n nuwe president van die Europese Sentrale Bank.

Dis die eerste keer in die EU-geskiedenis dat poste en setels in soveel sleutelinstellings in dieselfde jaar gevul word. Dié veranderings sal ’n nuwe politieke orde in die unie vir die volgende dekade inlui.

ONS BURE VERDER NOORD

Nigerië:

Ons groot mededinger in Afrika hou in Februarie verkiesing. Volgens die Wêreldbank is Nigerië se ekonomie net-net groter as Suid-Afrika s’n – dus Afrika se grootste.

“Die vraag is of pres. Muhammadu Buhari die verkiesing gaan oorleef ná verskeie probleme tydens sy presidentskap – en of daar weer eens geweld gaan wees,” sê Theo.

Zimbabwe:

Die Zim­babwiese president, Emmerson Mnangagwa.

Hoe lyk die toekoms vir Zimbabwe net meer as ’n jaar nadat Robert Mugabe uitgewerk is en Emmerson Mnangagwa die land se leierskap oorgeneem het?

Pryse styg steeds en mense staan tou vir basiese kosprodukte. Van die buitelandse beleggers wat miljarde in die land sou kom stoot, is daar min sprake. Volgens Ernest Mudzengi, ’n politieke ontleder van Zimbabwe, “ly die bevolking steeds sonder enige wesenlike vooruitsigte van ekonomiese verbetering”.

DIE REUSE IN DIE OOSTE

China:

Weens Trump se handelsoorlog met die naasgrootste ekonomie in die wêreld, sê Theo, is “China op soek na nuwe handelsvennote. Afgesien van Indië kan Australië en verskeie Suid-Amerikaanse state daarby baat vind.”

Intussen word Xi Jinping, president van die wêreld se grootste nasie, toenemend beskou as “een van die toonaangewendste wêreldleiers.

Onder sy leiding sal China hul voetspoor wêreldwyd en in Afrika in die besonder verder verdiep.”

Xi Jinping. Foto: Getty Images
Pres. Xi Jinping

Indië:

Vanjaar word daar verkiesing gehou in die grootste demokrasie wêreldwyd. Honderdmiljoene Indiërs vat in April koers stembus toe.

“Indië is een van die sterks groeiende en belowendste ekonomieë wêreldwyd. Dit lyk of eerste minister Narendra Modi weer die paal sal haal,” sê Theo.

“Dit kan Indië op ’n pad van stabiliteit, kontinuïteit en verdere ekonomiese groei hou.”

Volgens die Wêreldbank is Indië se ekonomie reeds die sesde grootste wêreldwyd.

AAN DIE TUISFRONT

Hoe gaan die verkiesing uitspeel?

In Mei 2019 sal Suid-Afrikaners in hul miljoene by die stembus aanmeld in die nasionale verkiesing.

“Dié verkiesing gaan bepaal of die ANC steeds met ’n volstrekte meerderheid sal regeer,” sê Theo.

“Indien nie, sal die EFF in die posisie wees om in ’n koalisie of samewerkingsooreenkoms met die ANC te tree.”

Hoe lyk die ANC, DA en EFF se kanse?

“Ná die Zumajare en die afgelope jare se swak dienslewering, staatsinstellings wat prakties ineenstort of wanfunksioneel is, en die inligting wat nou bekend raak rondom staatskaping, lyk die eens magtige ANC kwesbaar. Die vraag is of die leierskap van pres. Cyril Ramaphosa kan verhoed dat hul steun tot onder 50% daal,” sê Theo.

‘Die vraag is of die leierskap van pres. Ramaphosa kan verhoed dat die ANC se steun tot onder 50% daal’.

Pres. Cyril Ramaphosa het verlede jaar begin skoonvee en reeds van die geraamtes uit die regering se kas geskud, maar dit sal lank vat om die skade van die Zumajare te bekamp en beredder.

“Die DA sou veral hierby kon baat vind, maar die Patricia de Lille-kwessie in die Wes-Kaap en vrae oor Mmusi Maimane se leierskap kan verhoed dat die party munt slaan uit die ANC se probleme,” sê hy.

Patricia het einde 2018 ’n nuwe party, Good, gestig nadat haar pad as burgemeester van dié van die DA geskei het.

Theo voorspel: “Die EFF kan by alles baat vind. Die vraag is of hulle hul steun kan verdubbel tot ongeveer 15%.”

Julius Malema. Foto: Getty Images
Julius Malema

Leila Patel, professor in maatskaplike ontwikkelingstudies aan die Universiteit van Johannesburg, sê die ANC se struggleverlede kommandeer nie meer soveel lojaliteit by kiesers op soos voorheen nie.

Kwessies soos swak regering en korrupsie weeg ál swaarder. ’n Meningspeiling deur Leila en haar kollegas wys 53% van respondente sal in Mei vanjaar vir die ANC stem. Dis baie minder as die 62% van stemme wat die ANC in 2014 gekry het.

Die uitkoms van die verkiesing sal ’n groot impak op die res van Ramaphosa se termyn hê. “Die vraag is of pres. Ramaphosa sy kabinet gaan verklein ná die verkiesing en in die proses van die oorblywende Zuma-ondersteuners ontslae raak,” sê Theo.

“Myns insiens wag hy vir die verkiesing om die skoonmaak van sy kabinet verder te voer. As die ANC baie swak vaar in die verkiesing, kan dit egter druk op Ramaphosa en die party laat toeneem.”

Hoe lyk die vooruitsigte vir die ekonomie?

Theo sê die wêreld wag en kyk of Ramaphosa die skade van die Zumabewind kan omkeer en buitelandse beleggers se vertroue in Suid-Afrika kan herstel. Buitelandse belegging kan in 2019 volgens die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling moontlik ietwat toeneem, mits beleidonsekerheid wel ná die verkiesing afneem.

Die liggaam sê in hul jongste ekonomiese voorskou Suid-Afrika se power ekonomiese groei die afgelope jaar kan ietwat verbeter in 2019. Maar werkloosheid, byna 28%, sal hoog bly.

Ekonomiese groei van minstens 5% is nodig vir behoorlike werkskepping en vooruitgang in Suid-Afrika, maar die Wêreldbank skat ons ekonomiese groei sal van sowat 1% in 2018 tot net 1,3% in 2019 styg.

Die Reserwebank se rentekoersverhogings sal vanjaar gering wees, voorspel die Momentum Investments-ekonoom Sanisha Packirisamy.

Die grondkwessie

’n Besluit oor die model waarvolgens grond in Suid-Afrika onteien kan word, sal vroeg in 2019 aan Ramaphosa voorgelê word nadat die president ’n paneel aangestel het om raad aan die komitee oor grondhervorming te voorsien.

Rapport het berig die paneel het op ’n beraad in Desember die moontlike scenario voorgehou dat 30% van Suid-Afrika se beskikbare landbougrond binne die volgende vyf jaar deur ’n staatsondersteunde program aan swart Suid-Afrikaners oorgedra word.

Dié idee het groter weerklank gevind as ’n voorstel dat minstens 50% van die grond in wit besit sonder vergoeding onteien word.

Dr. Vuyo Mahlati, voorsitter van die paneel, het egter benadruk dat die komitee tot dusver nog net voorleggings oorweeg het en steeds ’n finale besluit moet neem.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Getty Images
Pres. Cyril Ramaphosa

Grondhervorming sal ’n hoogs emosionele politieke kwessie bly, meen Theo.

“Dit skep nie net verdeeldheid tussen Suid-Afrikaners in die breë nie, maar ook binne ANC-geledere.

“Terwyl pres. Ramaphosa buitelandse beleggers probeer paai rondom die kwessie en aanvoer dat grondhervorming ordelik en volgens die reg sal geskied, is daar ANC-lede wat ideologies pro-onteiening is. Die vraag is of ’n minder of meer radikale ideologiese vertrekpunt die pas gaan aangee wanneer die ANC sy verkiesingsveldtog met mening binnegaan.

“Die EFF gaan uiteraard die pap dik aanmaak rondom nasionalisering en radikale grondhervorming.”

Theo hoop die kwessie van grondhervorming “kan met die nodige politieke leierskap ná die verkiesing na rustiger waters begelei word”.

BRONNE: THECONVERSATION.COM, STRATFOR.COM, CNN, BBC, NEWZIMBABWE.COM

Foto’s: Gallo Images/Getty Images