Ná die wegholsukses wat hy behaal het met sy eerste musiekvideo, Afrikaans Sal Bly (vanaf sy debuutalbum, Kleindorp-dromer), het Elandré Schwartz besluit om sy aanhangers met nog een te bederf.

Stilte voor die Storm is die tweede amptelike enkelsnit vanaf die album.

“Die eerste video het so goed gevaar, ons het besluit om nog een te maak. Omdat ek soveel goeie terugvoer oor Stilte voor die Storm gekry het, was dit maklik om te besluit van watter snit ons ’n video sou maak,” vertel Elandré.

Die 21-jarige sanger van Despatch in die Oos-Kaap het omtrent ’n sensasie veroorsaak nadat hy op November 2016 ’n platekontrak aangebied is.

Tydens ’n regstreekse optrede op Bok Radio 98.9fm en Bok TV het Ernst Kleinhans van Select Musiek hom gehoor en hom op die plek ’n platekontrak aangebied. 

Nadat Elandré se album op 1 September 2017 die rakke getref het, was dit binne die eerste week reeds uitverkoop.

“My lewe het daardie dag heeltemal verander. Dit is nou nog vir my oorweldigend wanneer ek in ’n musiekwinkel inloop en my CD op die rakke sien. En ek geniet hierdie reis ontsettend baie,” sê hy.

“Ons het baie hard aan die musiekvideo gewerk en hoop mense sal daarvan hou. Ons wou in die video die warmte en intimiteit van ’n klein dorpie uitbeeld. Ek het byvoorbeeld grootgeword in ’n huis met houtvloere. Ek hoop regtig mense sal ewe veel van die video as van die liedjie hou,” sê hy.